|

AfriForum Jeug versoek onafhanklike hersiening van leerlingrybewystoets se vraebank

AfriForum Jeug versoek die minister van Vervoer, Barbara Creecy, om onafhanklike taal- en gehaltekenners toe te laat om die vraebank van die leerlingrybewystoets te laat hersien. Dit sluit beide Afrikaans en Engelse vrae- en antwoordopsies in. Dié versoek volg ná die jeugorganisasie steeds talle klagtes van die publiek ontvang oor die wyse waarop vrae in die gerekenariseerde leerlingrybewystoets formuleer, interpreteer en vertaal word.

AfriForum Jeug beklemtoon dat die organisasie nie wil hê die leerlingrybewystoets moet noodwendig makliker wees nie, maar eerder dat kandidate nie benadeel word deur dubbelsinnige vrae of swak vertalings nie. Die organisasie meen dat dit goed is dat die Departement van Vervoer maatreëls in plek wil stel om die integriteit van die toetsstelsel te beskerm en korrupsie te voorkom.

“Jongmense moet slaag of druip op grond van hul kennis van die padreëls, nie omdat ’n vraag- of antwoordopsie op meer as een manier geïnterpreteer kan word nie. Ons glo dat ’n onafhanklike taalhersiening die geloofwaardigheid van die stelsel verder kan versterk en openbare vertroue kan bevorder,” sê Hanno Koster, jeugleier van AfriForum Jeug.

In die brief stel AfriForum Jeug voor dat onafhanklike taalpraktisyns en kenners die vraebank hersien om onder meer vas te stel of die Afrikaanse vertalings die Engelse weergawe korrek weerspieël, of antwoordopsies dieselfde betekenis in beide tale behou en of sekere vrae onbedoeld dubbelsinnig is.

“Ons wil graag saam met die departement werk om te verseker dat hierdie stelsel werk soos wat dit moet. Indien daar wel ruimte vir verbetering is, glo ons dit behoort konstruktief met die departement bespreek te word voordat enige verdere openbare optrede volg,” sluit Koster af.

AfriForum Jeug het Creecy op ’n vorige geleentheid genooi om die nuwe leerlingrybewystoets saam met hulle af te lê.