AfriForum Jeug-verslag onthul: Rassediskriminasie swaai septer by rasmal universiteite
Rasseklassifikasie vier – ten spyte van ’n skynbare verbintenis tot nierassigheid en gelykheid – hoogty by Suid-Afrikaanse openbare universiteite. Dít meen AfriForum Jeug bevestig die deurlopende rassediskriminasie waaronder minderhede by dié instellings gebuk gaan. AfriForum Jeug het vandag ’n omvattende verslag oor die stand van nierassigheid aan Suid-Afrikaanse universiteite bekendgestel en onder meer die geweldige omvang en verreikende implikasie van rassebeleide wat tans by dié instellings geld, ontbloot.
Die verslag, getiteld The status of non-racialism at South African universities, spruit uit inligting wat AfriForum Jeug in Maart vanjaar van al 26 openbare universiteite aangevra het. Dit is gedoen ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA). Vyf elemente van nierassigheid aan dié instellings word in die verslag ondersoek, naamlik die vereiste van rasseklassifikasie in universiteitsaansoeke; die gevolge indien aansoekers weier om hul ras te openbaar; die onderskeie beleide of prosedures wat gebruik word om ras mee te bepaal; die aantal beleidsdokumente wat na ras verwys; en universiteite se standpunte oor die grondwetlike waardes van nierassigheid en gelykheid.
Verskeie skokkende bevindinge word in die verslag gemaak. Dit toon onder meer dat elkeen van die 26 openbare universiteite rasseklassifikasie in hul aansoekproses vereis. Voorts word aansoeke waarin aansoekers kies om nie hul ras bekend te maak nie, as onvolledig, en dus as ongeldig, geag. By een universiteit, die Universiteit van Kaapstad (UK), kan aansoekers selfs op grond van hul ouers se rasseklassifikasie tydens apartheid kies om onder die sogenaamde “herstelkategorie” (oftewel die “redress category”) geklassifiseer te word.
Rasseklassifikasie aan die meerderheid van openbare universiteite stem ooreen met die klassifikasie wat ook deur die Suid-Afrikaanse regering toegepas word, naamlik die onderskeid tussen Afrikaan, wit, bruin en Indiër. Tog word rasseklassifikasie aan die Nelson Mandela Universiteit (NMU), daarenteen, selfs verder geneem. By dié universiteit word onderskei tussen 17 verskillende rasse en kultuurgroepe – Afrikaan, Asiaties, Chinees, bruin, Indiër, Japannees, Ndebele, Noord-Sotho, ander, Suid-Sotho, Swazi, Tsonga, Tswana, Venda, wit, Xhosa, en Zoeloe.
Benewens die klassifikasie van rasse aan openbare universiteite, is bevind dat talle omvangryke beleide na ras en die hantering van rasse-aangeleenthede by universiteite verwys. By die Universiteit Stellenbosch (US) geld 17 verskillende rassebeleide, terwyl 15 dergelike beleide by die Noordwes-Universiteit (NWU) toegepas word en 10 by die Universiteit van Pretoria (UP).
“Dit is skokkend dat instellings wat sê dat hulle nierassig is, tot soveel as 17 beleide het wat na ras verwys. Dit is duidelik dat die tentakels van rasbeheptheid tot in tientalle sfere van universiteitslewe strek en die hantering van studente op grond van hul velkleur op verskeie vlakke beheer,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.
AfriForum Jeug se hoofdoel met dié verslag is om die voortgesette diskriminasie teen minderheidsgroepe in Suid-Afrika te dokumenteer en nierassige beleide aan Suid-Afrikaanse openbare universiteite voor te stel. “Die praktyk van rasseklassifikasie is ’n afstootlike skending van die reg op gelykheid soos deur die Suid-Afrikaanse Grondwet beoog word, en kom ook neer op ’n skending van die grondbeginsels van nierassigheid,” sê Van der Vyver. “AfriForum Jeug neem sterk standpunt in teen rasseklassifikasie wat onomwonde tot rassediskriminasie lei. Studente moet slegs volgens meriete gekeur en behandel word en nie volgens ras nie.”