Kospakkies
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug vat hande met SA for Hope om boere in Oos-Kaap te ondersteun

AfriForum Jeug se George- en Oudtshoorn-tak het op 17 Junie in samewerking met SA for Hope ’n uitreikaksie na boere, hul gesinne en werknemers in die droogtegeteisterde Oos-Kaap van stapel gestuur.

“SA for Hope is ’n organisasie wat droogte- en humanitêre hulp gratis aan boere, hul werkers en gemeenskappe in droogtegeteisterde gebiede verskaf. Ons help deur kos, voer en water te herverdeel. Sommige mense word wakker van ’n alarm, ander word wakker met ’n roeping en ons is roepingsgedrewe,” sê Pieter du Plessis van SA for Hope.

“Ons het hierdie noodkreet van die boere gehoor en glo dat dié uitreik die eerste van vele aksies saam met SA for Hope sal wees. Ons het onder meer water, kospakkies en spesiale bederfpakkies aan die boere uitgedeel. Ons het verder ook voer vir die boere se diere verskaf,” sê Jana Naudé, voorsitter van AfriForum Jeug se George-tak.

“By AfriForum glo ons dat elke lid van die gemeenskap ’n verskil kan maak. Ek bedank graag die lede van AfriForum Jeug se George- en Oudtshoorn-tak vir die hoop wat hulle in hul gemeenskappe skep en die tasbare verskil wat hulle maak,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

“AfriForum Jeug se George-tak beplan ook ’n sokkie-aand vir 21 Oktober, waarvan ’n gedeelte van die wins vir SA for Hope se volgende uitreik aangewend sal word. Ons is baie opgewonde oor die kunstenaars wat dié aand gaan optree. Dagboek sommer nou al dié datum en volg ons Facebook- en Instagram-blad vir meer inligting,” sluit Erasmus af.

Klik hier of stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za indien jy by een van dié AfriForum-takke betrokke wil raak en sodoende deel van die oplossing wil wees.