Hessekwa vrywilligers
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug-takke woeker met skoonmaak- en omgee-aksies

AfriForum Jeug se takke het verskeie aksies gedurende die laaste twee weke van September aangepak om hul dorpe skoon te hou en sodoende hulle gemeenskapsbetrokkenheid te demonstreer.

Die Hessekwa-tak het saam met die Hessekwa-GPF vullis opgetel in Riversdal en ongeveer 20 sakke vol verwyder. Dieselfde tak het ook in Albertina vullis opgetel – 25 sakke vol.

Die George-tak het in samewerking met die plaaslike gemeenskap het vullis wat onwettig gestort is opgeruim – die Victoriabaai-buurtwag het ook deelgeneem aan hierdie aksie. Volgens Wikus van der Walt, strukture beampte by AfriForum Jeug, wys hierdie samewerking die krag van kollektiewe optrede om ’n positiewe verandering teweeg te bring.

In Pretoria het AfriForum Jeug se De Goede Hoop Koshuis-tak ook ’n verskil gemaak deur tyd saam met die inwoners van Brooklyn Frail Care te spandeer.

“Hierdie inisiatiewe is nie net oppervlakkige skoonmaak- en omgee-aksies nie, dit dui op die jeug se aktiewe pogings om by die gemeenskap betrokke te raak en eienaarskap te neem van die omgewing waarin hulle woon. Hierdie aksies help om by te dra tot ’n volhoubare toekoms en deur hierdie samewerkende benadering versterk ons ook gemeenskapsbande,” sê Van der Walt.

AfriForum Jeug nooi jongmense om deel te word van hulle naaste tak om sodoende te help om ’n verskil te maak.