NWU-Pukke-2
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug stuur brief aan NWU oor bevraagtekenbare SR-stemproses

AfriForum Jeug het vandag ’n dringende brief aan die bestuur van die Noordwes-Universiteit (NWU) gestuur om antwoorde te eis oor waarom die stemproses vir die studenteraad (SR) na afloop van die volledige verkiesingsproses heropen is. Boonop sal net 350 studente, volgens kommunikasie van die NWU, in hierdie heropende proses kan stem. Geen terugvoer is tot op hede ontvang nadat AfriForum Jeug op 5 September ’n brief aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) vir studente en die NWU gestuur het om hul bekommernisse oor die stemproses uit te lig en terugvoer te versoek nie.

Die jeugorganisasie is ook bewus van die SR se formele brief wat hulle op 6 September aan die universiteitsbestuur gerig het om hul ongelukkigheid oor die proses uit te spreek. Hulle het ook nog geen terugvoer ontvang nie.

“Ons lede, wat studente van die Puk is, is bekommerd oor die redes waarom hierdie uitsondering vir 350 studente gemaak word. Dít, terwyl daar nie deursigtigheid of voldoende kommunikasie van die universiteitsbestuur aan die studente hieroor is nie,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.