a
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug skep groentetuin by Pretoriase kinderhuis

AfriForum Jeug se Pretoria-tak het op 21 April in die gemeenskap teruggeploeg deur ’n groentetuin by die Louis Botha-kinderhuis in dié stad te vestig. Hierdie aksie het ter viering van Internasionale Moederaardedag (22 April) plaasgevind.

Dit volg nadat ’n tekort aan vars groente en vrugte by hierdie instansie aan die lig gekom het. Die projek is in samewerking met Solidariteit Jeug en Helpende Hand Jeug geloods. Hierdie drie instansies het hande gevat om die jeug by Louis Botha-kinderhuis te wys wat selfdoen werklik beteken en wat die positiewe impak daarvan is.

Die tak het vir die kinderhuis ’n groentetuin aangeplant met behulp van 25 studente van Akademia en die Universiteit van Pretoria. Dié studente het die dag by die kinderhuis spandeer om die tuin gereed te kry. Van die groente wat geplant is, sluit in spinasie, kool, murgpampoentjies, blomkool, broccoli, Brusselse spruitjies, tamatie, bone en blaarslaai. Verskeie kruie is ook geplant.

Die betrokke studente het weggestap met ’n hele paar wenke van hoe om ’n suksesvolle groentetuin te begin en te onderhou.

“Ons is opgewonde om te sien hoe die kinders die tuin gaan versorg en gaan laat groei! AfriForum Jeug se Pretoria-tak sal maandeliks ’n draai gaan maak om die instandhouding en volhoubaarheid van die groentetuin te verseker,” sê Adrienne Krause, jeugbeampte van AfriForum Jeug.

Hierdie groentetuin-projek is nasionaal van stapel gestuur en gaan nie net in Gauteng ’n verskil maak nie maar ook in soveel ander provinsies regoor die land.

“Ons lewe in ’n tyd waar lewenskostes by die dag duurder word en voedselsekuriteit al hoe skaarser. Dit is tyd dat ons self seker maak dat ons vars groente en vrugte het wat ons nie ’n arm en ’n been gaan kos nie. Ons sien uit om oor die volgende ses maande te hoor hoe elke tak se groentetuin gegroei het en ’n gemeenskap gehelp het,” sluit Krause af.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum Jeugtak betrokke en sien hoe die jeug hul toekoms in hul eie hande neem. Besoek afriforum.jeug@afriforum.co.za om aan te sluit.