AfriForum Jeug se mentorskapprogram rus jong leiers toe met waardevolle praktiese ervaring
Nege studente van Stellenbosch Universiteit, die Universiteit van Pretoria, Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus en Akademia het van 5 tot 11 Julie aan AfriForum Jeug se jaarlikse mentorskapprogram deelgeneem. Dié program word sedert 2019 jaarliks aangebied en is daarop gemik om jong leiers te bemagtig, hul persoonlike en professionele ontwikkeling te bevorder en bloot te stel aan die werklikhede van gemeenskapsontwikkeling, burgerlike aktivisme en die werksomgewing.

Die week is afgeskop met ’n besoek aan die Voortrekkermonument, waar die studente meer oor hul Afrikanererfenis en geskiedenis geleer het. Die groep het ook die geleentheid gehad om die aand in die historiese ossewaens deur te bring.
Gedurende die week het die studente verskeie leierskapsontwikkelingsessies by die AfriForum-hoofkantoor bygewoon. Hiertydens het die deelnemers aan die program waardevolle insigte ontvang oor leierskap, gemeenskapsontwikkeling en die rol van burgerlike organisasies van vooraanstaande leiers soos Flip Buys (voorsitter van die Solidariteit Beweging), dr. Dirk Herman (bestuurshoof van Solidariteit) en Jacques Broodryk (AfriForum se hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid).
Die studente is daarna in drie groepe verdeel en na verskillende streke gestuur om eerstehands blootstelling te kry aan en kennis op te doen van uitdagings wat gemeenskappe op grondvlak beleef en om self skouer aan die wiel te sit by AfriForum se selfdoenprojekte in dié gemeenskappe.

Die eerste groep het die Hoëveld besoek waar hulle nie net die omvangryke uitdagings ten opsigte van watervoorsiening in dié streek waargeneem het nie, maar ook gehelp het om slaggate in Bethal te herstel. In Delmas het die groep saam met AfriForum se Delmas Valke-buurtwag deelgeneem aan ’n veiligheidspatrollie. Twee vermeende kapers is onder meer tydens dié patrollie aangekeer.
Die tweede groep studente het die Mooirivier-distrik besoek. In Klerksdorp het die studente die plaaslike rioolsuiweringsaanleg besoek en eerstehands gesien hoe rou riool in die Schoonspruitrivier vloei weens die aanleg se gebrekkige funksionering. Die groep het ook ’n sitting van ’n parlementêre oorsigkomitee vir Samewerkende Regering en Openbare Administrasie (Tradisionele Sake, Menslike Nedersettings en Water en Sanitasie) in Parys bygewoon. Dié besoek volg op die onlangse hofbeslissing wat opdrag gegee het vir die ontbinding van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se raad en provinsiale ingryping by dié sukkelende munisipaliteit om dienslewering hier te herstel. Benewens dié sitting, het die groep ook eerstehands aanskou hoe besoedeling voortgesit word met die vloei van rou riool in die Vaalrivier by Parys.


Die derde groep het die Groot Marico-streek besoek waar hulle toetse uitgevoer het om die gehalte van drink- en gesuiwerde rioolwater te toets in Rustenburg, Mooinooi en Hartbeespoort. Die span het voorts ook self moue opgerol om slaggate in Rustenburg te herstel. Tydens ’n veiligheidsimulasie wat in Brits bygewoon is, kon dié groep studente ook die plaaslike buurtwag en hul honde-eenheid in aksie sien.
Later die week het al drie groepe die AfriForum Centurion-tak se herwinningsdepot besoek om meer te leer oor AfriForum se gemeenskapsprojekte en diensleweringsinisiatiewe.
Op Vrydag 10 Julie het elke student tydens ’n skynmediakonferensie terugvoer gegee van hul streeksbesoeke. Hiertydens is die waargeneemde uitdagings belig, die impak daarvan op die betrokke plaaslike gemeenskappe bespreek en praktiese oplossings voorgestel.
Die program is afgesluit met ’n veiligheidsessie waartydens die studente opleiding in veilige vuurwapenhantering ontvang het. Die opleiding is aangebied deur AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid. Studente is onder meer bewus gemaak van verantwoordelike vuurwapengebruik, veiligheidsprosedures en die korrekte beveiliging van vuurwapens.
“Die doel van ons mentorskapprogram is om jongmense nie net as leiers toe te rus nie, maar ook om hulle bloot te stel aan die uitdagings waarmee gemeenskappe daagliks gekonfronteer word. Deur hulle saam met ons streke en verskillende afdelings te laat werk, ontwikkel hulle praktiese vaardighede, leer hulle om oplossingsgerig te dink en kry hulle die selfvertroue om op hul eie kampusse en in hul gemeenskappe ’n tasbare verskil te maak,” sê Yvonne Gerber, jeugontwikkelingsbeampte by AfriForum Jeug.
“Gedurende die mentorskapprogram het die studente blootstelling aan verskeie afdelings binne AfriForum ontvang en waardevolle praktiese en leierskapsvaardighede ontwikkel wat hulle in hul studies, toekomstige loopbane en gemeenskappe sal kan toepas,” verduidelik sy.
Met hierdie mentorskapprogram bevestig AfriForum Jeug opnuut sy verbintenis tot die toerusting van die volgende geslag jong leiers met die kennis, ervaring en waardes wat nodig is om ’n blywende verskil in die land te maak.


