
AfriForum Jeug se Germiston-tak vier bekendstelling met kompetisie vir jonges
AfriForum nooi alle jongelinge in die Germiston-gemeenskap uit om aan ’n blokraai- en inkleurkompetisie deel te neem, ter viering van die bekendstelling van AfriForum Jeug se Germiston-tak op 1 Mei.
Ouers, skole en gemeenskapslede word uitgenooi om hierdie inisiatief te ondersteun en jong deelnemers aan te moedig om hul kreatiwiteit te wys. Die doel daarvan is om jongmense op ’n prettige en opvoedkundige manier by gemeenskapsprojekte te betrek. Daar is pryse op die spel en deelname is gratis en oop vir kinders van alle ouderdomme.
Die kompetisie het op 25 April afgeskop en duur tot 9 Mei. Hierdie inisiatief vorm deel van AfriForum se verbintenis tot die ontwikkeling van gemeenskapsbetrokkenheid en jeugleierskap. “Saam bou ons ’n verantwoordelike, trotse en aktiewe jeug,” sê Elzabé Pretorius, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak.
Die blokraai en inkleurprent kan aanlyn op die AfriForum Germiston-groep op Facebook afgelaai word. Daar is ook gedrukte afskrifte beskikbaar, wat via gemeenskapskoördineerders en patrolleerders in verskeie woonbuurte versprei sal word. Die wenners van die kompetisie sal kort ná die sluitingsdatum (9 Mei) aangekondig word.
Vir enige navrae of om afskrifte aan te vra, kontak Pretorius by 082 433 8153 of 086 102 0030.