|

AfriForum Jeug rus Rustenburgers met selfverdedigingsvaardighede toe

AfriForum Jeug se Rustenburg-tak het op Saterdag 19 September ’n gratis selfverdedigingsklas vir inwoners aangebied. Die tak wil inwoners help om moontlike gevaar vroegtydig raak te sien en beter voorbereid te wees wanneer hulle bedreig word.

Die jongste beskikbare misdaadsyfers skets die plaaslike veiligheidsuitdaging. Van April tot Junie 2026 is 108 gewone aanrandings, 60 aanrandings met die opset om ernstig te beseer, 23 verkragtings, tien moorde en sewe pogings tot moord in die Rustenburg-polisiekantoor se bedieningsgebied aangemeld. Hoewel die totale getal aangemelde misdade in die gebied laer was as in dieselfde kwartaal verlede jaar, het gewone aanrandings met 5,9% gestyg.

Tydens dié klas het deelnemers oor situasiebewustheid en praktiese selfverdediging geleer. Hulle is gewys hoe om moontlike gevaar in hul omgewing vroeër raak te sien en hoe om te reageer wanneer hulle hulself moet beskerm.

“Die syfers wys dat mense in Rustenburg steeds met geweldsmisdaad te doen kry. Ons wil hê inwoners moet gevaar vroeër kan raaksien en weet wat hulle kan doen wanneer hulle bedreig word. Daarom bied AfriForum Jeug praktiese opleiding aan wat hulle in hul daaglikse lewe kan gebruik,” sê Jaun Ferreira, voorsitter van AfriForum Jeug se Rustenburg-tak.

AfriForum Jeug se Rustenburg-tak moedig inwoners aan om by toekomstige selfverdedigingsklasse en ander veiligheidsinisiatiewe van die tak betrokke te raak.