brett-jordan-kuEMUoDZepY-unsplash
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug oorwinning: Vrystaat top-100-matrieks kry hul beurse

AfriForum Jeug vier vandag die oorwinning dat die Vrystaat se top-100-matrieks van 2021 uiteindelik hulle beloofde beurse ontvang het. Dit volg ná AfriForum Jeug reeds in April vanjaar regstappe begin neem het om te eis dat die Vrystaatse provinsiale beurskantoor die beurse uitbetaal wat die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, aan die toppresteerders beloof het.

Te danke aan AfriForum Jeug wat ingegryp het, kon sewe toppresteerders beurse gekry het nadat hulle vir maande gesukkel het. AfriForum Jeug het dit reggekry om hierdie kwessie in minder as ’n maand uit te klaar.  

“Ons is verheug oor die feit dat AfriForum Jeug se volgehoue druk tot so ’n positiewe uitkoms vir hierdie toppresteerders kon lei. Behalwe die soet oorwinning dat die verdienstelike studente nou hulle beurse kan ontvang, hoop ons dat hierdie geveg die presedent skep dat politieke leiers hulle beloftes nakom, veral as dit die toekoms van ons jongmense raak,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Die studente wie se beurse teen einde April nog nie betaal was nie het voorts gesukkel om korrespondensie van die beurskantoor te ontvang en het AfriForum Jeug om hulp genader. Die organisasie het agt van die top Vrystaatse matrieks bygestaan deur prokureursbriewe aan die premier te skryf om te eis dat die beurse uitbetaal word. Na geen reaksie ontvang is nie het AfriForum Jeug gedreig om hom tot die hooggeregshof te wend indien die beurse nie binne 30 dae uitbetaal word nie. Op 29 Junie is AfriForum Jeug deur die Vrystaatse provinsiale beurskantoor in kennis gestel dat die beurse uitbetaal sal word. Die studente het die afgelope week die jeugorganisasie laat weet dat hulle beurse ontvang is.

“Baie dankie aan AfriForum Jeug vir hulle hulp met ons beurse. Ons is baie verlig dat ons beursgelde betaal is. Ons is bevoorreg om hierdie beurse te kan hê en waardeer almal se bydrae tot ons toekoms,” sê Maryke du Pisanie, een van die studente wat deur AfriForum Jeug gehelp is.

“Ek kan nou weer makliker asemhaal en 100% op my studies fokus,” sê Mahike Kilian wat ook deur die jeugorganisasie bygestaan is.