seyi-ariyo-UG5NpfjQevY-unsplash
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug neem verdere regsaksie oor gesloer met Vrystaat top-100-matriekbeurse

AfriForum Jeug het vandag drie prokureursbriewe aan die Vrystaatse premierskantoor gestuur om te eis dat die provinsiale beurskantoor binne die volgende 30 dae die beurse aan die lys studente, wat deur AfriForum Jeug in hierdie saak verteenwoordig word, uitbetaal word. Hierdie eis geld ten spyte daarvan dat die betrokke studente in drie verskillende fases van die administratiewe proses is.

Dit blyk dat daar geen orde by die beurskantoor se administratiewe sake is nie. Sommige studente het nog geen korrespondensie of dokumentasie ontvang nie, terwyl ander reeds hulle aansoekvorms ontvang en voltooi het, en ander reeds hul beurskontrakte ontvang en geteken het.

Die regsaksie volg ná studente van die Vrystaat se top-100-matrieks (2021) vroeër die jaar vir AfriForum Jeug om hulp genader het omdat hulle beurse nog nie uitbetaal is nie en hulle verwarrende of geen korrespondensie van die beurskantoor ontvang nie. Die organisasie het in April namens hierdie studente ’n prokureursbrief aan Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, se kantoor gestuur om te eis dat die beurse wat sy as toekenning vir die merkwaardige prestasie belowe het, uitbetaal word. Geen reaksie is ontvang nie, wat daartoe gelei het dat AfriForum Jeug oor verdere regstappe besin het tydens ’n konsultasie met hulle prokureur en die benadeelde partye.

“Dit was ontstellend om te hoor hoe ’n ouer aangedaan vertel dat haar dogter reeds in graad 8 gesê het sy gaan baie hard werk want sy soek daai beurs, maar nou voel dat dit van haar ontneem is. Elkeen van hierdie studente het baie hard gewerk om die prestasie te bereik, maar moet nou saam met die verantwoordelikheid van hulle studies die bekommernis dra oor hul universiteitsgelde wat betaal moet word, terwyl die Vrystaatse beurskantoor sloer,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Tydens die konsultasie is die regspan daarvan verwittig dat die studente, as gevolg van die beurskantoor se afwesige en verwarrende korrespondensie, in drie verskillende fases van die administratiewe proses is, terwyl die universiteite hulle druk om gelde te betaal. AfriForum Jeug sal daarom nie huiwer om verdere regstappe oor hierdie kwessie te neem nie.

Indien die premier nie op die skrywe reageer en tot aksie oorgaan om die beurse uit te betaal nie, sal AfriForum Jeug hulle tot die hooggeregshof wend.