| DeurAfriForum

AfriForum Jeug neem regsaksie vir erkenning van onafhanklike skole se toppresteerders

AfriForum Jeug het vandag ’n aanmaningsbrief aan die Oos-Kaap se Departement van Onderwys gestuur om die nasionale departement se rekord van besluitneming, asook die geskrewe redes waarom onafhanklike skole en hulle leerders uitgesluit word van provinsiale erkenning, te versoek.

Die jeugorganisasie voer aan dat só besluit onredelik is, siene dat hierdie leerders dieselfde kurrikulum as openbare skole volg en dieselfde eksamens skryf. Boonop het die departement daarin gefaal om met die publiek oor die besluit te konsulteer en dit aan onafhanklike skole te kommunikeer.

AfriForum Jeug het van hierdie kwessie verneem toe ’n leerder, van die onafhanklike skool Global Leadership Academy, die organisasie om hulp genader het omdat sy van die beste matriekuitslae (2021) in die Sarah Baartman-distrik en die Oos-Kaap gekry het, maar ander leerders, met swakker matriekuitslae, het die erkenning as toppresteerders in hierdie gebiede ontvang. Die kwessie is deur die leerder se familie en skool-personeel aan die departement gerapporteer, maar die departement het versuim om voldoende met hulle te korrespondeer. AfriForum Jeug eis nou dat die departement die amptelike akademiese plasing van die leerder, asook die lys van toppresteerders in die Oos-Kaap aanstuur.

Verder versoek AfriForum Jeug ’n vergadering met die nasionale departement van onderwys om die besluit dat onafhanklike skole en hul leerders uitgesluit word by die erkenning as toppresteerders, te bespreek.

“Soos die regeringskapasiteit verval, word gemeenskappe al hoe meer gedwing om self verantwoordelikheid te neem vir hul kinders se onderrig en ons kan nie toelaat dat hulle as gevolg van oplossings, soos onafhanklike skole, te nagekom word nie,” sluit René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug, af.