1-A-campus
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug moedig alle US-alumni aan om by konvokasie vergadering te stem

Die Universiteit van Stellenbosch (US) se konvokasie hou vanaand ’n buitengewone vergadering waartydens daar gestem sal word op twee mosies van wantroue. AfriForum Jeug glo dat die uitslae van hierdie stemproses ’n wesenlike invloed gaan hê op die toekoms van die US. Die organisasie moedig dus US-alumni aan om vanaand hul stem te laat tel vir ’n toekoms op kampus waar Afrikaans en studentetradisies nog ’n plek het.

Die eerste mosie vra vir die vervanging van al die verkose lede – behalwe dr. Rudi Buys van die uitvoerende komitee van die konvokasie. Adv. Jan Heunis – die president van die konvokasie – en die uitvoerende komitee is kampvegters vir die regte van Afrikaanssprekendes en goeie korporatiewe bestuur. AfriForum Jeug stem dus nee vir wantroue in die uitvoerende komitee.

Die tweede mosie waaroor gestem moet word vra vir die verwydering van Buys aangesien hy ’n onherstelbare vertrouensbreuk binne die uitvoerende komitee teweeggebring het. Dit blyk dat Buys saam met ’n groepering van akademici werk wat dr. Louise van Rhyn en prof. Jonathan Jansen insluit. Van Rhyn het vroeër in ’n video haar vreugde uitgespreek oor die feit dat sy nie meer vir MBA-studente in Afrikaans hoef klas te gee nie. Jansen het op sy beurt polariserende en omstrede uitlatings gemaak waaroor daar wyd berig is. AfriForum Jeug stem dus ja vir die mosie van wantroue teen Buys.

Alumni wat nie teen 30 Mei geregistreer het om aanlyn te stem nie kan steeds vanaand om 19:00 by die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch gaan stem met hul ID-dokument.

“Die Universiteit van Stellenbosch was die laaste paar maande telkens in die nuus oor menseregteskendings van Afrikaanse studente sowel as bewerings van nepotisme teen prof. Wim de Villiers. Dit blyk nou dat daar individue is wat vir De Villiers ten alle koste wil beskerm, maar AfriForum Jeug is van mening dat die universiteitsbestuur nie onaantasbaar moet wees nie, maar eerder dat die konvokasie se uitvoerende komitee die universiteitsbestuur verantwoordbaar moet hou en toegelaat moet word om op te staan vir studente se belange,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.