Picture4
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug maak UV-dosent se rassistiese uitlatings openbaar

AfriForum Jeug het vandag die skokkendste rassistiese uitlatings van dr Pedro Mzileni, dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), deur middel van ’n video ontbloot. Dit volg nadat die jeugorganisasie in Augustus ’n klag van rassisme teen dié UV-dosent by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK), asook by die UV, ingedien het.

Op dié video kan gehoor word hoe Mzileni stellings kwytraak soos: “The children of white people today, employing your children and subjecting them to animal treatment,” tydens ’n lesing op 25 Julie. Nog voorbeelde van sy verdelende uitlatings lui: “No other people are subjected to cruelty like black South Africans.” en “South African white people are chilling on the back of you. You are suffering…You are not the same.”

Die UV het AfriForm Jeug se regspan op 10 Oktober in kennis gestel dat hulle binnekort die ondersoek na die klag van Mzileni se rassisme gaan finaliseer. Die SAMRK is nog besig met hulle ondersoek nadat hulle op 20 September bevestig het dat hulle die saak gaan ondersoek.

“Kovsie-studente het na ons toe uitgereik vir hulp nadat Mzileni se rassistiese uitlatings in die klas hulle baie ongemaklik en onveilig laat voel het. AfriForum Jeug het dadelik stappe gedoen omdat ideologies-verwronge en rassistiese inhoud nooit op ons kampusse toegelaat mag word nie. Hierdie video, wat die skokkendste rassistiese uitlatings van Mzileni uitlig, is nodig omdat die publiek saam standpunt moet inneem oor gevolge vir ’n dosent wat homself skuldig maak aan rassisme,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Die jeugorganisasie meen dat die publiek, en in besonder die ouers van UV-studente, bewus moet wees van die onaanvaarbare inhoud wat in sommige van die klasse by dié universiteit aangebied word.

Kyk die video en versprei dit om saam met AfriForum Jeug druk op die UV en SAMRK te plaas om hul ondersoeke te finaliseer.