Ou_Lettere_f_Tuks-731x477-1
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug-lid beklink oorwinning in TUKS se SR-verkiesing ten spyte van smeerveldtog

’n Finalejaarregstudent aan die Universiteit van Pretoria (UP) is pas as die nuwe sekretaris van Tuks se Studenteraad (SR) aangewys ten spyte van ’n reeks valse aantygings en doelbewuste pogings om haar reputasie te skaad en sodoende haar verkiesingsveldtog van stryk te bring. Die onafhanklike verkiesingsmaatskappy Elections Management Consulting Agency of Africa (EMCA), wat die SR-verkiesing bestuur het, het ’n ondersoek na die valse aantygings teen Euléne Bornman, óók ’n AfriForum Jeug-raadslid, van stapel gestuur en vandag bevind dat die aantygings ongegrond is.

AfriForum Jeug benadruk dat Bornman se integriteit en verbintenis tot die regte van studente vertroue by haar mede-Tukkies inboesem en dat dit, eerder as blatante leuens, uiteindelik die beslissende rol in haar verkiesingsveldtog gespeel het.

Ongegronde en valse aantygings van rassisme, die verwydering van Bornman se verkiesingsplakkate en selfs voorvalle van intimidasie is tekenend van die vendetta wat gedurende die verkiesingstydperk teen Bornman gevoer is.

“Dié pogings om Bornman se veldtog te laat ontspoor was onsuksesvol, maar tog uiters kommerwekkend en toon ’n ongesonde kultuur in kampuspolitiek wat nie net tot die nadeel van die betrokke kandidate is nie, maar tot die nadeel van studente in die algemeen,” verduidelik Marné Buys, AfriForum Jeug-woordvoerder. “AfriForum Jeug is egter, ten spyte van die onbillike teenstand wat Bornman moes verduur, verheug oor haar verkiesing tot die SR. Haar deursettingsvermoë, optimisme en doelgerigtheid om dié universiteit se studente te dien is veel groter as die kwaadwillige pogings om haar af te skrik. Dit is boonop hierdie kwaliteite wat die studente oortuig het om hul vertroue in haar te plaas en tot die SR te verkies. Studente het ’n duidelike boodskap gestuur tydens hierdie verkiesing en beklemtoon dat hulle leiers soek wat werklike verandering te weeg kan bring.”   

’n Amptelike ondersoek is intussen teen die individu wat die valse aantygings teen Bornman gemaak het, van stapel gestuur. AfriForum Jeug is vol vertroue dat die Independent Monitoring Body, wat verseker dat die SR-verkiesing vry en regverdig geskied, die ondersoek deursigtig en billik sal hanteer en dat die waarheid sal seëvier.

Bornman het onlangs ’n veldtog teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) van stapel gestuur om die negatiewe impak van die wanbestuur van hierdie skema deur middel van ’n regsaksie te mitigeer.

Na afloop van haar verkiesing tot die SR het Bornman die studente vir hul steun bedank. “Ek staan nederig oor die vertroue wat die studente in my geplaas het. Ek wil veg vir die regte van alle studente en ’n deursigtige, inklusiewe en verantwoordelike SR. Saam kan ons ons universiteit ’n beter plek maak vir almal. Al lê daar uitdagings voor, sien ek uit daarna om dit te trotseer,” verduidelik Bornman. “My doel is om instrumenteel te wees in die vestiging van ’n SR wat nie net na die UP-studente luister nie, maar ook aksie sal neem.”

AfriForum Jeug is verbind tot hul steun aan Bornman en aksies om die opheffing van die universiteit en studente se universiteitservaring te bewerkstellig.