|

AfriForum Jeug leer jong skuts oor verantwoordelik jag in Moorreesburg

AfriForum Jeug van die Malmesbury-tak het die afgelope naweek in samewerking met Kaapjag ’n skietdag by die Kaapjag-skietbaan in Moorreesburg aangebied. Jong skuts het hiertydens geleer oor verantwoordelike jagpraktyke, asook die belangrikheid van dissipline met wapens en die erfenis rondom die jag- en skietkultuur in Suid-Afrika.

Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus, lê die waarde van hierdie tipe opleiding in die kombinering van vaardigheidsontwikkeling, gemeenskapsamewerking en erfenisbeskerming.

“AfriForum beskou hierdie dag as méér as net ’n sportgeleentheid – dit is ’n belegging in ons jeug, ons erfenis en ons gemeenskappe. Wanneer jongmense leer om veilig en verantwoordelik met wapens om te gaan, ontwikkel ons nie net lewensbelangrike vaardighede nie, maar ook karakter en trots in ons kultuur.”

Jong skuts van oor die streek heen het in die .22-gongbaan-dissipline meegeding, waar veiligheid en verantwoordelike wapenhantering eerste op die agenda was. Die pryse op die spel, wat onder meer ’n aantal kontantpryse ingesluit het, het gesorg dat dié dag met nóg meer geesdrif aangepak is. Die lang gongskiet vir deelnemers ouer as 21 jaar was ’n verdere hoogtepunt.

AfriForum Jeug se Malmesbury-tak sien hierdie as die begin van ’n ryk tradisie van vaardigheidsontwikkeling en gemeenskapsbou en nooi jongmense uit om betrokke te raak by toekomstige aktiwiteite.

Besoek sluit-aan.afriforum.co.za om by AfriForum se Malmesbury-tak betrokke te raak.