NSFAS-beurs-gekanselleer-Ons-wil-jou-help
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug lê diensklag oor ondersoek na NSFAS-wanbesteding

AfriForum Jeug het vandag ’n diensklag aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ingedien omdat daar nog geen terugvoer ontvang is oor die vordering van die ondersoek na die strafregtelike klag van wanbesteding teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) nie. Hierdie klag is al meer as elf weke gelede ingedien.

Die diensklag is aan die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, gerig om te eis dat daar dringend aan die ondersoek aandag gegee word.

NSFAS was in 2020-2021 alleenlik verantwoordelik vir die wanbesteding van R77,49 miljard. AfriForum Jeug het op 9 November 2022 ’n klag, ingevolge arikel 83 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, by die Lyttelton-polisiekantoor in Centurion ingedien. Die klaer het egter tot op hede, en ten spyte van pogings om na die SAPD uit te reik, geen korrespondensie oor die vordering van die ondersoek ontvang nie.

Aansoeke vir NSFAS-beurse sluit vandag en die uitkoms van die aansoeke sal volgens Blade Nzimande, die minister van Hoër Onderrig, op 6 Februarie bekendgemaak word.

“Hierdie tyd van die jaar, kort voor tersiêre instellings se akademiese programme afskop, is NSFAS ’n teerpunt vir AfriForum Jeug. Ons neem sterk standpunt in teen die ANC-regering se korrupsie-kultuur wat jongmense benadeel, soos NSFAS se wanbesteding wat tot gevolg het dat daar minder fondse beskikbaar is om vir behoeftige jongmense die geleentheid te gun om te studeer. Daarom is ons in afwagting dat die provinsiale kommisaris die nodige stappe neem om te verseker dat AfriForum Jeug se klag teen NSFAS se wanbesteding deeglik ondersoek word,” sluit René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug, af.