AfriForum Jeug kweek volgende generasie leiers in Gauteng
AfriForum Jeug buig boompies wanneer hulle nog jonk is, daarom het dié jeugorganisasie onlangs leerders van ses Gautengse skole in Pretoria bymekaargebring om in hulle ontwikkeling en groei as leiers te belê. Die Toekomsskeppers-inisiatief is spesifiek daarop gemik om nuutverkose graad 11-leiers te bemagtig met die nodige insig, vaardighede en netwerkgeleenthede om ’n blywende verskil in hul skole en gemeenskappe te maak.
Skoliere verbonde aan Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Noordheuwel, Hoërskool Centurion, Hoërskool Montana en CVO Skool Pretoria het die dag bygewoon. Meer as 60 skoliere en onderwysers het aktief deelgeneem aan gesprekke oor leierskap, selfkennis en persoonlike roeping.
Tydens die sessie het die skoliere die resultate van hulle EngagementFit DRIVE-assessering geanaliseer – ’n praktiese hulpmiddel wat leiers help verstaan watter faktore hulle dryf, motiveer en energie gee. Hierdie insigte dien as ’n fondasie waarop skoliere hul unieke leierskapstyl kan bou.
Dries Lombaard, hoofspreker en medeskepper van die EngagementFit DRIVE-assessering, het tydens sy aanbieding die belangrikheid van selfkennis vir enige leier beklemtoon. Die dag het egter uit meer as net teorie bestaan. Die skoliere het ook die geleentheid gekry om mekaar te ontmoet, ervarings te deel en waardevolle kontakte te bou met ander jong mense wat dieselfde passie vir diens en verandering deel.
Volgens Yvonne Gerber, beampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, lê die krag van die projek in die toeganklikheid daarvan, “Baie skole het nie die hulpbronne om formele leierskapsopleiding aan te bied nie. Met Toekomsskeppers bring ons praktiese opleiding en hulpmiddels direk na skoliere toe, teen geen ekstra koste aan skole nie. Só bou ons ’n kultuur van verantwoordelike leierskap.”
Gerber voeg by dat AfriForum Jeug in elke provinsie poog om jong mense toe te rus om proaktief op te tree, eerder as om net op omstandighede te reageer. “Ons sien by elke funksie hoe leerders met nuwe oë na hul rol as leier kyk. Hulle besef dat hulle reeds ’n verskil kan maak – nie eendag nie, maar vandag.”
AfriForum Jeug glo dat elke jong leier die potensiaal het om positiewe verandering te dryf. Deur programme soos die Toekomsskeppers-inisiatief skep die jeugorganisasie ’n platform waar jongmense selfvertroue, karakter en visie ontwikkel, eienskappe wat Suid-Afrika se toekoms sal vorm.
Sluit aan by AfriForum Jeug en help ons om nóg meer jong leiers toe te rus om met moed en integriteit te lei. Besoek https://sluit-aan.afriforumjeug.co.za/af vir meer inligting.






