1200px-Main_building_FSU_2
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug krap miernes by Vrystaatse beurskantoor oop

AfriForum Jeug het vandeesweek nóg prokureursbriewe aan die Vrystaatse provinsiale beurskantoor gestuur om te eis dat die beloofde beurse aan 2021 se top-100-matrieks in die Vrystaat uitbetaal word.

Dit volg nadat talle pleitende e-posse van die Vrystaat se top-100-matrieks, wat nie hul beloofde beurse gekry het nie, deur AfriForum Jeug ontvang is. Die probleem is meer verreikend as wat AfriForum Jeug aanvanklik gedink het. Die organisasie het twee van die top-studente bygestaan ná dit onder hulle aandag gebring is dat die studente nie hul beurse, of enige korrespondensie van die beurskantoor, ontvang het nie.

“Die aantal navrae wat ons ontvang het beklemtoon dat onregverdigheid met beurse ’n wesenlike probleem vir ons jongmense is. Ons het sowaar ’n miernes oopgekrap, waar verskillende euwels in hierdie verband ontbloot word,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Daar was vroeër die jaar kontroversie oor die beurse vir die top-100-matrieks in die Vrystaat. Volledige beurse is per geleentheid aan elke matriek wat hierdie prestasie behaal het belowe, maar die Vrystaatse regering het kort daarna teruggedraai en ander kriteria vir beurstoekennings voorgestel. Kinders wie se ouerpare gesamentlik meer as R600 000 per jaar verdien, word toe van die beurs ontneem. Ná groot druk van opposisiepartye en die media het die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela op 4 Maart opnuut beloof dat elke top-100-matriek die beloofde beurs sal ontvang, ongeag wat hul ouers se jaarlikse inkomste is.

Die navrae wat aan AfriForum Jeug gestuur is wys egter dat die beurse van verskeie studente nog nie uitbetaal is nie en dat hierdie studente steeds tevergeefs probeer om korrespondensie van die beurskantoor te kry. Verder het van die studente op 25 April gehoor dat hulle van voor af moet aansoek doen vir die beurse en aan versoeke gehoor moet gee, soos die aanheg van ouers se salarisstrokies.

“Dit is hartseer om te sien hoe hardwerkende toppresteerders deur die Vrystaatse regering behandel word. Die studente probeer al vir maande om basiese korrespondensie van die beurskantoor te kry en nou moet hulle weer deur die uitmergelende proses gaan om ’n beursaansoek in te stuur, met onbillike vereistes, om die beurs te kry wat reeds aan hulle beloof is,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug het ’n afsku in die onregverdigheid wat met beurse gepaardgaan en nooi daarom opnuut ander studente, wat in dieselfde posisie is, uit om die organisasie om hulp te nader deur ’n e-pos te stuur rene.vandervyver@afriforum.co.za