Dorpskoshuis neem standpunt in
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug kap Puk oor uitsluiting van studente by verwelkomingsfunksie

AfriForum Jeug het vandag, na aanleiding van gebeure die afgelope naweek op die Puk-kampus, ’n brief aan dr. Sibusiso Chalufu die uitvoerende direkteur van Studentelewe by die Noordwes-Universiteit (NWU) gestuur waarin die jeugorganisasie antwoorde oor die gebeure eis. Dorpskoshuise is die naweek van die amptelike verwelkoming uitgesluit na bewering as gevolg van ’n gebrek aan diversiteit.

AfriForum Jeug eis onder meer antwoorde oor wanneer die Puk die besluit geneem het dat dorpskoshuise se eerstejaars ’n virtuele verwelkoming in aparte lokale moes bywoon en waarom die betrokke koshuise se huiskomitee-lede eers die Vrydagaand om 23:30 daarvan in kennis gestel is.

Die jeugorganisasie eis verder dat ’n rede verskaf moet word oor waarom studente van die dorpskoshuise, wat rondom die amfiteater bymekaar gekom het, weggejaag is deur ’n bestuurslid as die amptelike rede vir die uitsluiting toegeskryf word aan ’n kapasiteit probleem.

“Ons wil ook hê dat die universiteit ’n amptelike verskoning aan die studente wat te nagekom is moet stuur met ’n waarborg dat die Puk nooit weer studente van amptelike aktiwiteite of funksies sal uitsluit as gevolg van hul ras nie,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug. “Hierdie tipe uitsluiting is onaanvaarbaar en indien ons nie spoedige reaksie van die Puk-bestuur ontvang nie sal ons verdere stappe doen.”