20230422_111608cut
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug in Bloemfontein vestig groentetuin by Engo Kinder- en Jeugsorgsentrum

AfriForum Jeug se Bloemfontein-tak het op 22 April, oftewel Moederaardedag, in samewerking met Akademia ’n groentetuin by die Engo Kinder- en Jeugsorgsentrum aangeplant. Die groentetuin is met groot waardering ontvang.

Hierdie sentrum is nou ’n pragtige groentetuin met spinasie, wortels, ertjies, uie, sprietuie en sommer ook waatlemoen ryker. Dié groente en vrugte sal in die sentrum se kombuis aangewend word, terwyl dit die jongelinge daar ook leer van die belangrikheid van Moeder Aarde.

Die studente het vroegdag met hul tuingereedskap by die sentrum opgedaag en dadelik weggespring om die groentetuin ’n realiteit te maak. Die jong inwoners van die Engo Kinder- en Jeugsorgsentrum het ook handjie bygesit en dadelik eienaarskap geneem van hul nuwe groentetuin.

“Een van die belangrikste waardes wat ons by ons kinders moet instel, is liefde en respek vir die planeet waarop ons woon. Dit is belangrik dat kinders van ’n baie jong ouderdom af bewus word van die belangrikheid om na die omgewing om te sien,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Sluit vandag aan by jou plaaslike AfriForum tak. Klik hier om aan te sluit.