
AfriForum Jeug herstel slaggate en bemagtig gemeenskap tydens Jeugkongres
AfriForum Jeug-lede van reg oor die land het op 25 Januarie, saam met die plaaslike AfriForum-tak, die strate van Parys ingevaar en sowat 3.75 ton gebruik om slaggate te vul. Dié energieke jeuglede het ook stopstrate oorgeverf, randstene in die hoofstraat opgeknap en vullis verwyder. Hierdie selfdoen-aksie het opnuut die jeug se toewyding aan hul gemeenskappe beklemtoon asook hul begeerte om ’n tasbare verskil in hul gemeenskappe te maak.
AfriForum Jeug het die jaar op ’n hoë noot afgeskop met hul jaarlikse nasionale jeugkongres te Udolpho, net buite Parys. Hier het 55 jeuglede vanuit elke provinsie byeengekom om deel te neem aan verskeie aktiwiteite en opleidingsessies wat ten doel gehad het om jong leiers toe te rus met die vaardighede en motivering om ’n blywende bydrae in hul gemeenskappe, koshuise, universiteite en werksplekke te maak. Die kongres het ’n sterk fokus op leierskap- en persoonlike ontwikkeling gehad deur middel van teoretiese en praktiese sessies.
Die kongres het afgeskop met ’n persoonlike ontwikkelingswerkswinkel wat gevolg is deur sessies soos Veiligheid 101 wat praktiese vaardighede soos selfverdediging en ’n hommeltuig-demonstrasie ingesluit het. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, het die jeuglede die Saterdagoggend toegespreek en gesels oor wat 2025 vir AfriForum inhou en die jeug se belangrike rol in die organisasie se missie.
Die veldtogsessie het kongresgangers bemagtig met kennis oor verskillende soorte veldtogte en hoe om dit doeltreffend te beplan en uit te voer. Spanne is opdrag gegee om aktiwiteite soos die skryf van mediaverklarings, die maak van video’s en die voorbereiding vir radio onderhoude aan te pak, vaardighede wat hulle later in hul gemeenskappe kan toepas. Die praktiese toepassing van hierdie sessie het die volgende oggend gevolg met die #OnsSalSelf-inisiatief in Parys.
Hanco Stone, een van die jeuglede, het sy bewondering gedeel vir Schalk Burger, voorsitter van die AfriForum Parys-tak. “Ek was geïnspireer deur hoe oom Schalk in sy vrye tyd en op sy ouderdom sy dorp se strate en veiligheid prioritiseer. Dit was selfs meer merkwaardig om te besef dat hierdie pogings deur vrywilligers uitgevoer word,” aldus Stone.
Alta Pretorius, Mooirivier-distrikskoördineerder, het die belangrikheid van jeugbetrokkenheid in plaaslike takke en selfdoenaksies beklemtoon. “Om verantwoordelikheid vir jou toekoms te neem, begin met aktief wees in jou gemeenskap,” sê Pretorius.
Die kongres het op Sondagoggend, 26 Januarie 2025, afgesluit met ’n prysuitdeling waar jeuglede erkenning ontvang het vir hul harde werk gedurende die afgelope jaar.
Hierdie jaar se jeugkongres het jong leiers met noodsaaklike vaardighede toegerus en ook ’n blywende impak op die Parys-gemeenskap gelaat. Dit dien as ’n herinnering dat werklike verandering moontlik is wanneer individue self inisiatief neem.