AfriForum Jeug gebruik 3,5 ton teer om enkele slaggat op Lynwoodweg te herstel
AfriForum Jeug se Tuks-tak het verlede week in samewerking met die AfriForum-buurtspan in Pretoria-Oos ’n gevaarlike slaggat aan die hoek van Lynwood- en Brooklynweg opgevul. Altesaam 3,5 ton teer is gebruik om die slaggat te herstel. Dié reuseslaggat het ’n ernstige gevaar vir motoriste en voetgangers in gehou.
“Terwyl die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit die afgelope ses maande bloot dié slaggat vermy het, vorm hierdie aksie deel van AfriForum Jeug se volgehoue pogings om gemeenskappe te bemagtig en praktiese oplossings vir infrastruktuur-uitdagings te bied,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.
Leam Nieuwoudt, ondervoorsitter van AfriForum Jeug se Tuks-tak, sê studente weier om terug te staan en te wag vir probleme om hulself op te los. “Jongmense het die vermoë en verantwoordelikheid om ’n verskil te maak. Hierdie projek wys presies wat moontlik is wanneer ons hande vat en self optree.”



Die gemeenskap se entoesiasme teenoor die herstelwerk en ondersteuning van die span is ’n bewys van hoe broodnodig die herstelwerk was. Gerber sê elke motoris wat gestop het om die span te groet, ’n foto te neem en selfs dié wat koeldranke af gelaai het, het die werk ’n bietjie ligter gemaak.
“Projekte soos hierdie is nie moontlik sonder ’n betrokke en ondersteunende gemeenskap nie,” sluit Gerber af.
AfriForum Jeug bly verbind tot die bou van veilige, funksionele en selfstandige gemeenskappe waar jongmense ’n aktiewe rol speel in die verbetering van hul omgewing. Besoek www.wordlid.co.za om ’n verskil teweeg te bring.

