ourstories.zp168959
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis optrede teen die EFF SC UP oor haatspraak

AfriForum Jeug het vandag ’n brief aan prof. Caroline Nicholson, registrateur van die Universiteit van Pretoria (UP), gestuur om te eis dat daar opgetree moet word teen die EFF Student Command van UP (EFFSC UP) se lede wat hulself aan haatspraak skuldig maak. Dit volg ná die jeugorganisasie ’n skrywe onder oë gehad het waarin die EFFSC UP ander studente op kampus dreig met woorde wat volgens die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) aanhitsing tot geweld en haatspraak is.

Alhoewel Julius Malema, leier van die EFF, deur die SAMRK voor die hof gedaag word oor die aanhitsing van geweld en haatspraak tydens sy toespraak in die Wes-Kaap op 16 Oktober 2022, het die EFFSC UP steeds hierdie woorde as dreigement in hul skrywe aangehaal. Verder is die skrywe vol veralgemenings en rassistiese opmerkings.

“AfriForum Jeug begryp die erns van die navrae wat ons ontvang het van Tuks-studente wat onveilig voel as gevolg van die EFFSC UP se aanhitsing tot geweld en haatspraak. Ons optrede om die skuldiges verantwoordbaar te hou is egter nie slegs gefokus op hierdie een insident nie, maar ’n voorbeeld van hoe ernstig ons die EFFSC se radikale uitlatings, op alle kampusse, beskou,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

In die brief aan Nicholson vra AfriForum Jeug hoe die universiteit teen die skuldige EFFSC-lede opgetree het en eis dat die EFFSC UP nie as studentevereniging van die universiteit aktief mag wees nie. AfriForum Jeug sal na aanleiding van die universiteit se optrede verdere klagtes by die Gelykheidshof teen die EFFSC UP-studente oorweeg.