AfriForum Jeug (2)
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis deursigtigheid van openbare universiteite oor rasseklassifikasie-inligting

AfriForum Jeug het vandag ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan al 26 openbare universiteite in Suid-Afrika gestuur. Hierdie aansoek verplig hierdie universiteite om inligting oor rasseklassifikasie aan die jeugorganisasie bekend te maak.

AfriForum Jeug wil deur die PAIA-aansoeke vasstel wat universiteite se beleide oor rasseklassifikasie is. Die vrae verplig die universiteite om bekend te maak hoe hulle die klassifikasie van voornemende en huidige studente, op grond van hulle ras, regverdig. Die prosedure wat die universiteit volg om ’n individu se ras te bepaal moet uitkom so ook of die universiteite vir studente die opsie gee om nie hul ras self te klassifiseer en te openbaar nie.

Lede van die jeugorganisasie het vanoggend by die Universiteit van Pretoria (TUKS) bymekaar gekom en saam na die administrasiegebou gestap om die PAIA-aansoek te oorhandig. Die studente was  in hemde geklee met die eenvoudige stelling “African” daarop gedruk. Dié aksie is uitgevoer om die landswye indiening van die PAIA-aansoeke oor openbare universiteite se rasseklassifikasie-beleide te demonstreer.

“Die regering voer aan dat Afrikaners nie in Suid-Afrika hoort nie en daarom nie na hulself as ‘Afrikane’ mag verwys nie. Hierdie benaming word egter gebruik om ons geboorteland aan te dui en in dié sin is Afrikaners ten volle ook Afrikane,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Die jeugorganisasie wag vir die inligting van die onderskeie universiteite om te bepaal watter verdere stappe geneem moet word om te verseker dat studente van die Suid-Afrikaanse openbare universiteite nie as gevolg van rasse-beleide benadeel word nie.

“AfriForum Jeug neem sterk standpunt in teen rasseklassifikasie wat onomwonde tot rassediskriminasie lei. Studente moet slegs volgens meriete gekeur en behandel word en nie volgens ras nie. Ons sal die druk volhou om rasbehepte beleide, regulasies, en wette stop te sit waaraan die  sogenaamde ‘nie-rassige’ ANC vasklou,” sluit Van der Vyver af.