0a96e2d3-0f15-430a-929b-6ed499992248
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis dat NWU stabiliteit by kampusse afdwing

AfriForum Jeug het vandag in ’n brief aan dr. Bismark Tyobeka, visekanselier van die Noordwes-Universiteit (NWU), geëis dat die universiteitsbestuur stabiliteit op kampusse moet verseker en nie mag toelaat dat destabiliseerders studente ontneem van hul reg tot gehalte onderrig nie. Dit volg ná die universiteit studente op 31 Julie in kennis gestel het dat alle kontakklasse onmiddellik opgeskort is weens gewelddadige protesaksies oor NSFAS se laat-uitbetalings aan begunstigdes.

AfriForum Jeug eis dat die kampusse se sekuriteit opgeknap word, sodat daar ’n stabiele leeromgewing vir studente is, ongeag insidente waar gewelddadige protesaksies deur destabiliseerders gevoer word. Die jeugorganisasie eis ook dat die universiteit sal bekendmaak watter kommunikasie met die SAPD gevoer is om skare-beheer toe te pas.

NSFAS word reeds vir jare geken as ’n instansie wat homself skuldig maak aan wanbesteding en wanadministrasie. “Die NWU kan dus nie elke keer wat hierdie soort wanbestuur protesaksie ontlok, hul skouers optrek en toelaat dat studente daarvoor moet boet met aanlyn akademiese verrigtinge nie,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.