1200px-Main_building_FSU_2
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis antwoorde van UV oor toelaes en gewelddadige protesaksie

AfriForum Jeug het vandag ’n brief aan die rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestuur om antwoorde te eis oor die groot bedrag geld wat as toelaes aan sommige studente uitbetaal is. Die organisasie eis ook antwoorde oor die brandstigting ná gewelddadige protesaksie wat ’n beraamde R35 miljoen se brandskade op die QwaQwa-kampus veroorsaak het.

Dié brandstigting vorm deel van die oproerigheid wat studente veroorsaak het omdat hulle besware het oor die nasionale hulpskema vir studente (NSFAS) se April-uitbetalings. In die brief aan Prof. Francis Petersen word daar onder meer gevra watter dissiplinêre stappe teen die verdagtes van die brandstigting gedoen gaan word, asook watter maatreëls in plek gestel is om die verdere ontwrigting van onderrig te voorkom.

Intussen het die UV reeds meer as R71 miljoen spandeer aan toelaes om die betrokke studente te help terwyl hulle wag vir hul NSFAS-subsidies om uit te betaal. AfriForum Jeug vind dit betreurenswaardig dat NSFAS die nodige fondse van behoeftige studente weerhou en vra dat die UV regstappe sal doen om te verseker dat NSFAS die geld aan die UV sal terugbetaal sodat die universiteit die R71 miljoen kan aanwend waarvoor dit geoormerk was.

“Hierdie bedrag word nou aangewend om slegs ‘n handjie vol studente te help terwyl dit veronderstel was om tot voordeel van die universiteit en sy studente gebruik te word. Die universiteit moet hul akademiese verantwoordelikhede teenoor alle studente nakom en hulle moet sorg dat die handjie vol oproeriges nie die hele kampus se akademiese bedrywighede ontwrig nie,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.