Tukkies
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis antwoorde van UP oor 2024-studenteraad

AfriForum Jeug versoek in ’n skrywe dringend antwoorde van die Universiteit van Pretoria (UP) nadat dit bekendgemaak is dat die UP die klagtes teen die EFF Student Command van die UP (EFFSC UP) -kandidate teruggetrek het en die UP ’n tydelike studentekomitee gaan aanwys.

Die jeugorganisasie vra in hul brief watter proses gevolg is om die klagtes teen die EFFSC UP-kandidate terug te trek en hoe dit hul geskiktheid om op die studenteraad (SR) te dien, beïnvloed. Verder wil AfriForum Jeug ook weet of die ex officio-lede van die 2024-SR, wat op die tydelike studentekomitee gaan dien, hierdie EFFSC UP-kandidate gaan insluit. Prof. Themba Mosia, visekanselier van die UP, het in ’n skrywe gesê dat die tydelike studentekomitee op 30 November aangekondig gaan word maar daar is nie duidelikheid oor hoe en wanneer die finale SR vir 2024 verkies en aangekondig gaan word nie. 

“AfriForum Jeug is gegrief deur Tuks wat, ten koste van hul studente, onder politieke druk van radikale groepe vou. Dit is belangrik dat ouers en studente kennis neem van Tuks se standpunt, of die afwesigheid van ’n standpunt, oor die EFF Student Command se haatspraak en intimidasie. Verder spreek dit boekdele dat Tuks ook versuim het om ons PAIA-vrae volledig te beantwoord oor die mandaat van die sekuriteitmaatskappy op hul kampus,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Die UP se SR-verkiesing was vanjaar baie kontroversieel en AfriForum Jeug is sedert die aanvang daarvan by dié debat betrokke. Die jeugorganisasie eis verder al vir ’n geruime tyd dat die EFFSC UP, wat hulself voortdurend aan haatspraak en intimidasie skuldig maak, as studentevereniging gederegistreer word. Dit is waarom AfriForum Jeug ’n spoedige reaksie op hul brief verwag.

AfriForum Jeug moedig alle Tukkies studente aan om die petisie te teken by www.skorseff.co.za