emmanuel-offei-bOrjvtn7aY0-unsplash
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis antwoorde van SANRAL oor beursdiskriminasie

AfriForum Jeug het vandag ’n prokureursbrief aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) gestuur om antwoorde te eis oor die agentskap se beurse vir 2024 wat blyk om onderhewig aan rassediskriminasie te wees. Uit die inligting wat op SANRAL se webblad en brosjures beskikbaar is blyk dit dat ras ’n bepalende faktor is by die toekenning van dié beurse. 

Die jeugorganisasie eis antwoorde by SANRAL oor onder meer:

  • Die kriteria wat hulle gebruik om transformasie teikens te definieer en te bepaal wanneer dit bereik is.
  • Hoe hulle hierdie beleid versoen met die grondwetlike waardes van nierassigheid en gelykheid.
  • Of aansoekers toegelaat word om hul ras self te klassifiseer en indien dit deur die agentskap geverifieer moet word, hoe die verifiëring gedoen word. 

Dit is belangrik dat die jeug van Suid-Afrika weet wat SANRAL se antwoorde op hierdie vrae is omdat SANRAL, as ’n staatsinstelling, se beleide ’n beduidende invloed het en juis daarom die grondwetlike waardes van gelykheid en nierassigheid moet weerspieël.

“SANRAL se blatante diskriminasie met hierdie beurse is net nog ’n slaggat in jong Afrikaners se toekoms en AfriForum Jeug staan enige vorm van rassediskriminasie ten sterkste teen. In moeilike ekonomiese omstandighede behoort die jeug juis gelyke geleenthede te hê om te studeer, wat op grond van meriete en nie die kleur van hul vel toegeken word,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

AfriForum Jeug beskou beleide en praktyke van rasseklassifikasie as ’n vasberadenheid om die stelsel van rasseklassifikasie, wat tydens apartheid gebruik is, aan die lewe te hou alhoewel die Bevolkingsregistrasiewet van 1950 reeds 32 jaar gelede herroep is.

Die jeugorganisasie verwag SANRAL se deeglike terugvoer binne die volgende 30 dae.