Dorpskoshuis neem standpunt in
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis antwoorde van die Puk oor rasse-uitsluiting

AfriForum Jeug eis antwoorde van die Puk-bestuur oor die uitsluiting van dorpskoshuise by die jaarlikse kampus-verwelkomingsfunksie wat daartoe gelei het dat studente in opstand gekom het oor rasse-uitsluiting. Huiskomitee-lede (HK) van die dorpskoshuise het Vrydagaand om 23:30 ’n WhatsApp-boodskap ontvang wat hulle in kennis gestel het dat hul eerstejaars in aparte lokale ’n virtuele uitsending van die verwelkoming moet kyk en nie deel kan wees van die sessie wat elke jaar by die amfiteater aangebied word nie.

Die HK het navraag gedoen by die studenteraad (SR) oor hierdie besluit waarop die SR-lid geantwoord het dat die dorpskoshuise nie divers genoeg is nie en dat wanneer hulle tydens die amfiteatersessie gevra gaan word om op te staan dit te wit gaan lyk.  Vanoggend het ’n groot groep studente van die dorpskoshuise buite die amfiteater bymekaar gekom om hul ongelukkigheid oor hierdie besluit bekend te maak.

“Dit is bisar dat die Puk sommige van hul studente, wat reeds betaal het vir registrasie en oriëntasie, ontneem van hul eerste studente ervaring op kampus, omdat hulle so rasbehep is dat hulle studente op grond van hul velkleur uitsluit. Verder is rasseklassifikasie en rassediskriminasie reeds deel van die toelatingsvereistes vir die kampus se koshuise, en nou is die studente wat daar uitgesluit word en geen ander keuse het as om by ’n dorpskoshuis aan te sluit nie, ook nie op ander plekke welkom nie,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Die betrokke dorpskoshuise, asook kampuskoshuise wat teen hierdie uitsluiting staan, het ook vandag buite die amfiteater stelling ingeneem en nie na die aparte lokale gegaan nie. ’n Bestuurslid, wat rapporteer aan die uitvoerende direkteur van Studentelewe, het egter die groep studente aangespreek en gesê dat hulle moet weggaan. Hy voer aan dat die kampus nie stellasies, soos al die vorige jare, kon bekostig om die eerstejaarstudente van dorpskoshuise by die amfiteatersessie te akkommodeer nie.

“Dit is ontstellend dat HK-lede, wat deur studente as leiers verkies is, nie toegelaat word om standpunt te neem oor kwessies op die kampus nie. Hulle word op die nippertjie vergewis van belangrike inligting wanneer hulle laatnag boodskappe met opdragte ontvang. Wanneer hulle dan opdaag en opstaan teen die onregverdige uitsluiting, word hulle weggejaag,” sê Adrienne Krause, AfriForum Jeug-beampte vir ontwikkeling, wat waargeneem het hoe die scenario afspeel.

AfriForum Jeug veroordeel rasse uitsluiting ten sterkste en is besig om meer inligting hieroor in te win, terwyl verdere stappe beplan word.