Maties-3
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis antwoorde oor verbod op Afrikaans by US

AfriForum Jeug het vandag, na aanleiding van bewerings oor ’n verbod op Afrikaans, ’n brief aan die visekanselier, prof. Wim de Villiers, van die Universiteit Stellenbosch (US) gestuur waarin die jeugorganisasie antwoorde eis. Daar is ernstige bewerings dat verteenwoordigers van die universiteit by verskeie geleenthede Afrikaanssprekende studente beveel het om onder geen omstandighede Afrikaans te praat nie. Dit sluit interaksies, hetsy informele sosiale of een-tot-een tussen moedertaalsprekers van Afrikaans in.

Die jeugorganisasie eis antwoorde by die US oor hoe hulle hierdie mensregteskendings gaan oplos en in die toekoms gaan verhoed. Verder wil AfriForum Jeug weet waarom hierdie insidente ’n herhaling blyk te wees van soortgelyke insidente, wat in 2021 plaasgevind het.

“Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) is reeds in 2021 getaak om ondersoek in te stel oor ’n beweerde “verbod” op Afrikaans op kampus. Het die universiteit ooit met die SAMRK opgevolg oor wanneer dié ondersoek se bevinding bekendgemaak gaan word?” vra René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Afrikaanssprekende studente is bang om op kampus in hul moedertaal te praat. Daar is selfs ’n sosiale geleentheid gekanselleer omdat van die studente met mekaar Afrikaans gepraat het. By ’n ander geleentheid is ’n student deur ’n studenteleier met vernedering gedreig en geïntimideer om nie Afrikaans te praat nie. Dié is slegs twee van die insidente, wat tussen 3 en 7 Februarie plaasgevind het, waar ’n verbod op Afrikaans geplaas is.

“Hierdie bewerings van Maties, asook die onlangse insident by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, spreek van die toksiese omgewing wat by Suid-Afrika se universiteitskampusse geskep word. Taalminderheidsgroepe word geboelie en studente word op grond van hul ras uitgesluit. Dit is ontstellend dat daar onder Afrikaanssprekende studente ’n vrees om hul moedertaal te praat, gesaai word,” sluit van der Vyver af.