|

AfriForum Jeug eis antwoorde oor R146-miljoen padwerke in Lynnwoodweg steeds sloer

AfriForum Jeug eis antwoorde van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit oor die bouprojek in Lynnwoodweg wat reeds in 2023 begin het en sedertdien blyk of daar geen end gaan wees nie.

In ’n skrywe aan die Tshwane-metro eis die jeugorganisasie onder meer antwoorde oor waarom die projek so lank sloer, hoe lank dit nog gaan duur, hoe die metro intussen te werk gaan om studente en ander padgebruikers se veiligheid te verseker en wat dié projek uiteindelik gaan kos. Die organisasie wil ook weet of die kontrakteur vir enige deel van die vertraging verantwoordelik gehou is en of boetes, skadevergoeding of ander kontraktuele remedies ingestel is.

Dié projek het reeds in Mei 2023 begin en moes na verwagting teen 26 November 2024 voltooi gewees het. Die projek is op 22 September 2025 verleng nadat die voltooiing op slegs 69% gestaan het en daarna weer verleng na 2 Maart 2026. Intussen het ’n gebrek aan veiligheidsmaatreëls op dié perseel daartoe gelei dat ’n rugby-ondersteuner vroeër vanjaar ná ’n rugbywedstryd gesterf het toe hy in een van hierdie uitgrawings geval het. Daar is egter steeds geen duidelikheid oor wanneer hierdie projek voltooi sal wees nie.

Duisende studente en ander padgebruikers beweeg daagliks te voet en per voertuig deur hierdie gebied wat lang verkeersopeenhopings veroorsaak, maar wat ook beduidende risiko vir hierdie studente en gebruikers inhou.

Die projek strek tussen Universiteitsweg en Atterburyweg, wat reeds ’n besige stuk pad is, en die konstruksie veroorsaak verdere vertragings hier. Die kostes van die projek is aanvanklik beplan om sowat R145 980 925.70 te beloop, maar dit blyk dat dié projek intussen sy aanvanklike begroting oorskry het.

“Daar is elke dag duisende studente wat via Lynnwoodweg by hulle klasse moet uitkom en die projek wat sloer hou geweldige risiko’s vir hulle in. Ons kan nie toelaat dat studente se veiligheid op die spel geplaas word weens swak uitvoering en bestuur van die projek nie,” sê Hanno Koster, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

“Die studente, inwoners en alle padgebruikers is nou al moeg vir die gesloer van hierdie projek. Ons sál nou, saam met die gemeenskap, druk op die Tshwane-metro plaas om hierdie konstruksie te voltooi sodat veilige padgebruik weer kan geskied,” sê Maree van den Berg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria.

“Pretoria se studentegebied behoort juis ’n plek te wees waar jongmense veilig tussen hul universiteit, koshuise, sportterreine en ander geriewe kan beweeg. Wanneer ’n groot padprojek vir jare voortsleep, kan die metro nie net aanvaar dat studente eenvoudig rondom die probleme moet aanpas nie. Hulle veiligheid moet ’n prioriteit wees,” sluit Koster af.

AfriForum Jeug het die metro tien werksdae gegee om skriftelike terugvoer te verskaf rondom die vrae wat aan hulle gerig is. Inwoners en padgebruikers word aangemoedig om AfriForum se petisie te teken om verdere druk op die Tshwane Metro te plaas om die bouprojek te voltooi.