nathan-dumlao-ewGMqs2tmJI-unsplash
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug eis antwoorde ná kampussekuriteit bedreiging van studente toelaat

AfriForum Jeug het vandag ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Universiteit van Pretoria (UP), die Universiteit van Stellenbosch (US), die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestuur. Hierdie aansoek versoek dat dié universiteite, waar die meeste van AfriForum Jeug se lede studeer, inligting aan die jeugorganisasie bekendmaak oor hulle kampussekuriteit se mandaat. Die groot vraag is: Is die kampussekuriteit se opdrag om die universiteit se eiendom te beskerm, of om die studente te beskerm?

Dit is vir AfriForum Jeug van kardinale belang om vas te stel of die sekuriteitsmaatskappye waarvan universiteite op kampus gebruik maak die mandaat het om studente te beskerm. “Studente en hul ouers het die reg om te weet of, en hoe, hul veiligheid op kampus verseker word,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug. Die PAIA-aansoeke vra onder meer vir ’n kopie van die kontrak wat tussen die universiteite en die sekuriteitsmaatskappye gesluit is, asook ’n rekord van korrespondensie waarin die primêre doelwitte van die maatskappye gestipuleer word – veral sleutel prestasie-aanwysers oor die beskerming van die universiteit se infrastruktuur en bates teenoor die beskerming van studente.

Die onlangse insidente van geweld en intimidasie by die UP het die jeugorganisasie genoop om hierdie inligting van universiteite te eis. AfriForum Jeug het vroeër hul stem dik gemaak toe beeldmateriaal aan die lig gekom het wat wys hoe lede van die EFF studente verhoed het om die kampus binne te gaan en op die video kan die kykers sien hoe die sekuriteitsbeamptes net staan en toekyk hoe dit gebeur.

“AfriForum Jeug hou die druk vol om te eis dat die EFFSC UP as studentevereniging gederegistreer word en moedig almal aan om die petisie te steun by www.skorseff.co.za. Voorts het die publiek die reg om te weet hoe die veiligheid van studente op universiteitskampusse verseker word en daarom wag ons angstig vir die antwoorde op die vrae in ons PAIA-aansoek,” sluit Van der Vyver af.