Louis Boshoff (AfriForum Youth intern) en René van der Vyver
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug dien strafregtelike klagtes van wanbesteding teen NSFAS in  

AfriForum Jeug het vandag strafregtelike klagtes teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) by die Lyttelton-polisiekantoor in Centurion ingedien.

Die klag word ingevolge artikel 83 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur ingedien, nadat die jeugorganisasie in die verslae wat die onreëlmatighede by NSFAS in die 2020/2021 en 2019/2020 oudits blootlê, kon sien dat NSFAS skuldig is aan ernstige wanbesteding. NSFAS was in 2020 tot 2021 alleenlik verantwoordelik vir die wanbesteding van R77,49 miljard.

Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het in Augustus vanjaar bekendgemaak dat hulle bewerings van wanadministrasie en korrupsie by NSFAS gaan ondersoek. Daar is egter nog niemand wat vervolg word nie en daarom is AfriForum Jeug genoodsaak om strafregtelike klagtes in te dien.

“Dit is skrikwekkend dat hierdie groot bedrag geld, wat aangewend kon word om vir behoeftige studente die geleentheid te bied om te kan studeer, so wanbestee word. Terwyl Blade Nzimande, die minister van Hoër Onderwys, spog met NSFAS wat tans meer as 700 000 studente finansier, is dit vir AfriForum Jeug onaanvaarbaar dat daar nog duisende ander behoeftige studente is wat nie toegang het tot hierdie openbare fondse nie, omdat dit wanbestee word,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.