AfriForum Jeug tel vullis op (1)
| Deurmeganswart

AfriForum Jeug bou aan blink toekoms vir Albertinia

AfriForum Jeug se Hessekwa-tak het verlede naweek werk daarvan gemaak om ’n skoner omgewing te skep deur ’n uitgebreide skoonmaakaksie in Albertinia te reël. Sewe vrywilligers van AfriForum se jeugvleuel en selfs lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het gehelp om ongeveer 25 sakke vullis op te tel en weg te ry. Die SAPD het boonop patrollies gery en die jeuglede beveilig terwyl hulle vullis om die Albertinia-gholfklub, plaaslike hoërskool en die omliggende woonbuurte en inkopiesentrums opgetel het.

“Die jeug is rentmeesters van hul toekoms, daarom het die burgerregteorganisasie se jeug die verantwoordelikheid opgeneem om hul omgewing te verbeter. AfriForum Jeug se lede bewys keer op keer dat hulle nie net oor ’n beter toekoms droom nie, maar aktief daaraan help bou,” sê Wikus van der Walt, AfriForum Jeug se beampte vir strukture.

Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, beaam hierdie sentiment. “Gemeenskapsbetrokkenheid is die hoeksteen van ’n beter toekoms. Die AfriForum Jeug se Hessekwa-tak is trots daarop om ’n verskil te maak, want ’n skoner woonbuurt kweek inderdaad ’n sterker gemeenskap,” sê hy.

Hierdie inisiatief het nie net bygedra tot die netheid van Albertinia nie, maar het ook ander gemotiveer om aktief deel te neem aan die bou van ’n goed georganiseerde gemeenskap. Deur saam te werk, kan daar ’n werklike verskil in gemeenskappe gemaak word. Raak vandag nog by AfriForum Jeug betrokke om hierdie visie te verwesenlik. Klik hier om aan te sluit.