Dorpskoshuis neem standpunt in
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug bied regshulp aan Puk-studenteleier wat onregverdig van KSR verwyder is

AfriForum Jeug het ingetree om ’n lid van die kampusstudenteraad (KSR) van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom (Puk) met regshulp by te staan nadat sy uit haar amp verwyder is. Die jeugorganisasie beskou dit as ’n poging deur die universiteit om rasse-uitsluiting toe te smeer en die illusie te skep dat hulle wel daadwerklike aksie geneem het.

Beàtha Groenewald, die Puk se gewese KSR-sekretaris, het nie saam met die besluit gestem dat studente van dorpskoshuise by die Puk se verwelkomingsfunksie uitgesluit word op grond van hulle rassesamestelling nie. Kort nadat sy opgestaan het teen rasse-uitsluiting by die NWU, is haar termyn as KSR-lid onder verdagte omstandighede beëindig.

Die kampusstudenteraad het Dinsdag aangekondig dat Groenewald uit haar amp verwyder is nadat ’n mosie van wantroue teen haar gebring is. Die redes wat hiervoor gegee is sluit in dat sy nie haar pligte as KSR-lid nagekom het nie en dat sy “skuldig is aan die ongemagtigde verspreiding van konfidensiële inligting aan eksterne partye.”

“Dit is hoogs verdag dat die Puk, ná die media-storm oor die gebeure van die afgelope naweek só haastig opgetree het om ’n skynbaar onskuldige KSR-lid af te dank. Hierdie lyk soos ’n desperate poging deur die universiteit om die indruk te probeer skep dat hulle teen die ernstige bewerings van rasse-uitsluiting optree. Die KSR-voorsitter, Yikumba Andreas, behoort ook te verduidelik na watter ‘konfidensiële inligting’ hy verwys, wanneer hy haar daarvan beskuldig dat sy dit ongemagtig versprei het. Dit laat ’n mens wonder of die Puk se rasagenda dus konfidensieel is, en enigiemand wat daarteen opstaan of daaroor praat, vinnig gevind en gestraf sal word,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Groenewald is bereid om druk op die Puk te plaas om ’n openbare verskoning aan te bied, asook te erken dat die gebeure die gevolg van ’n rasgedrewe insident was. “Die optrede teen my was op onregverdige gronde gedoen. Ek is uit my amp verwyder op grond daarvan dat ek vertroue met die studenteraad verbreek het, maar die waarheid is dat ek probeer opstaan het vir wat reg is en om die studente, wat my in hierdie leierskapposisie ingestem het, te probeer verdedig teen ongeregtigheid,” sê Groenewald.

AfriForum Jeug het Saterdag hul misnoeë uitgespreek oor dorpskoshuise wat na bewering op grond van hul gebrek aan diversiteit van die verwelkomingsfunksie in die amfiteater uitgesluit is. Die bewerings is dadelik deur die jeugorganisasie ondersoek en ’n brief is aan dr. Sibusiso Chalufu, die uitvoerende direkteur van studentelewe by die Puk, gestuur waarin belangrike vrae oor die skokgebeure gestel is. Die Puk het op Dinsdag 14 Februarie ’n vae mediaverklaring uitgereik oor die ondersoek wat hulle self gedoen het. Volgens die instelling is bevind dat daar geen onregmatige uitsluiting was tydens die verwelkomingsfunksie nie. Die universiteit hou voet by stuk dat die rede vir die uitsluiting bloot was as gevolg van kapasiteit.

“Hierdie is ’n ernstige saak en die Puk se onvermoë om ons vrae te beantwoord is kommerwekkend. Ons het onder meer gevra waarom kapasiteit hierdie jaar ’n probleem was terwyl dit nie vorige jare die geval was nie en waarom studente wat dan buite die amfiteater bymekaar gekom het vir die verwelkoming deur ’n bestuurslid weggejaag is. Die Puk se verklaring lewer ’n onvoldoende verduideliking oor die gebeure en laat belanghebbendes met selfs nog meer vrae as voorheen,” voeg Van der Vyver by.  

AfriForum Jeug aanvaar nie die Puk se antwoord nie en gaan voort met hul eie ondersoek.