obi-XDBRGiRYE-I-unsplash (1)
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug bevraagteken toename in voertuigmisdaad om Tuks-kampus

Klankgreep: Wikus van der Walt (Afrikaans_1)
Klankgreep: Wikus van der Walt (Afrikaans_2)
Klankgreep: Wikus van der Walt (Engels_1)
Klankgreep: Wikus van der Walt (English_2)

AfriForum Jeug eis duidelikheid van die Universiteit van Pretoria (UP) oor die voorvalle van voertuigmisdaad om die Hatfield-kampus. Dit volg in reaksie op die deurlopende voorkoms van onder meer motordiefstal- en -inbrake om die kampus.

Luidens ’n brief wat AfriForum Jeug op 30 Junie aan die UP gestuur het, meld talle studente voorvalle van motordiefstal- en -inbrake by die Brooklyn-polisiestasie aan, veral in gebiede waar hulle hul voertuie parkeer om klas om die kampus by te woon, koshuise te bereik of van openbare vervoer gebruik te maak.

“Hierdie misdryf hou nie net ’n bedreiging vir studente se veiligheid in nie, maar beïnvloed hul gemoedsrus. Studente is angstig dat hul voertuie gesteel word terwyl hulle klas bywoon en terselfdertyd is daar studente wat nie by hul klasse kan uitkom nie omdat hul voertuie reeds gesteel is. Al hierdie faktore kan gevolglik studente se akademiese prestasie beïnvloed,” sê Wikus van der Walt, AfriForum Jeug se beampte vir strukture.

“Studente behoort toegang tot veilige parkeerterreine te hê wanneer hulle klas bywoon en behoort nie bekommerd te wees oor hul veiligheid of die veiligheid van hul voertuie nie.”

Verder in die brief eis AfriForum Jeug duidelikheid oor die beskikbaarheid van veilige, gemoniteerde parkeerterreine vir studente; die sigbaarheid van sekuriteitspersoneel en kringtelevisie in hoë risiko-gebiede om en op die kampus; en die UP se samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die metropolisie en privaat sekuriteitsmaatskappye om misdaad om die kampus te hanteer.

Die organisasie het ook aangebied om saam met die universiteit, studenteleierskap en ander relevante strukture te werk aan praktiese oplossings om veiligheid vir alle studente te verseker.

“’n Veilige leeromgewing is nie-onderhandelbaar. Studente verdien meer as net akademiese ondersteuning – hulle het die reg op ’n veilige omgewing, wat hul menswaardigheid en eiendom beskerm,” sluit Van der Walt af.

Word vandag nog ’n lid van AfriForum Jeug: Besoek https://sluit-aan.afriforumjeug.co.za/af.