AfriForum Jeug bemagtig Sol-Tech-studente met praktiese veiligheidsopleiding
In ’n land waar misdaad hoogty vier het AfriForum Jeug se Sol-Tech-tak studente aan dié instelling met praktiese kennis en vaardighede toegerus om hulself teen misdadigheid te beskerm. Die jeugorganisasie het in samewerking met AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling ’n Veiligheid 101-sessie aan 35 studente aangebied wat in Sol-Tech se koshuis woonagtig is.
Die opleiding het gefokus op omgewingsbewustheid, basiese selfverdediging en verantwoordelike besluitneming wanneer ’n persoon hulself in ’n gevaarlike situasie bevind. Die doel is nie om deelnemers aan te moedig om misdadigers te konfronteer nie, maar eerder om hulle te help om risiko’s te verminder, gevaar betyds raak te sien en veilig uit ’n situasie te kom.

“Bykans elke student was óf al self ’n slagoffer van misdaad óf ken iemand wat dit deurgemaak het. Dit behoort nie die norm te wees nie, daarom is hierdie opleiding so belangrik. Ons herinner studente deurentyd daaraan dat hul besittings vervang kan word, maar nie hul lewe nie. Ons doel is daarom om jongmense toe te rus om kalm te bly, slim besluite te neem en hul veiligheid eerste te stel,” sê Tania Scheepers, junior jeugbeampte by AfriForum Jeug.
“Die fondasie vir die toekoms word vandag gelê. Deur die jeug bloot te stel aan selfverdediging en die moontlike gevare wat hulle in die gesig staar, kan ons hulle beter beskerm. Daarom hou ons die vinger op die pols – ons is ambagsmanne met ’n plan,” sê Xavier Zan, voorsitter van AfriForum Jeug se Sol-Tech-tak.
AfriForum Jeug glo dat veiligheid ’n gedeelde verantwoordelikheid is. Hoewel wetstoepassingsagentskappe ’n belangrike rol speel, kan gemeenskappe ook ’n verskil maak deur mekaar te ondersteun, kennis te deel en jongmense met praktiese vaardighede te bemagtig.
Die organisasie sal voortgaan om soortgelyke opleidingsgeleenthede aan te bied om studente en gemeenskappe te help om veiliger en meer weerbaar te wees. In ’n tyd van groot onsekerheid kan kennis, voorbereiding en die regte ingesteldheid ’n wesenlike verskil maak.



