|

AfriForum Jeug belê in jong Noordwes-leiers

AfriForum Jeug in die Noordwes het op 14 Oktober in die nuutverkose leiers van Hoërskool Wesvalia (Klerksdorp), Potchefstroom Volkskool en Koster Gekombineerde Skool se leierskapsontwikkeling belê vir die termyn wat voorlê. Die jeugorganisasie het ’n Toekomskeppers-funksie vir die nuwe leiers by Pesto’s aangebied, wat daarop gemik is om in die leiers van môre te belê. Hierdie inisiatief fokus op die nuutverkose graad 11-leiers van verskeie plaaslike skole en bemagtig hulle met praktiese leierskapvaardighede wat hulle in hul skole en gemeenskappe kan toepas.

Die groep van 35 studente en personeellede het tydens die funksie in diepte besin oor leierskap – spesifiek oor hoe om hulself eers as leier beter te verstaan deur middel van die EngagementFit DRIVE-assessering, wat binne 30 – 45 minute insig bied oor waar ’n leier hul energie en motivering vandaan kry.

Dries Lombaard, die hoofspreker en medeskepper van die EngagementFit DRIVE-assessering,  het die volgende tydens sy aanbieding beklemtoon: “Jy moet jouself ken. Jy moet weet wat trek jou af en wat trek jou op.” Volgens Lombaard is “leierskap ’n lewensroeping met of sonder outoriteit of aanstelling.”

Die leerders het nie net teoretiese kennis opgedoen nie, maar ook praktiese vaardighede waarmee hulle hul skole en gemeenskappe verder kan versterk. Die dag het ook ’n waardevolle netwerkgeleentheid aangebied waar jong leiers mekaar beter kon leer ken en ondersteuning vind by eweknieë wat dieselfde roeping deel.

“Daar is ’n groot leemte in opleiding onder ons jong leiers. Daarom is dit vir AfriForum Jeug ’n  kern fokus om praktiese leierskapsontwikkeling by skole aan te bied om jong mense toe te rus met vaardighede wat werklik saak maak. Daar is baie assesserings wat op leierskap fokus maar terselfdertyd duisende rande kos. Ons wil dit toeganklik maak vir alle skole – groot en klein – omdat ons in die bou én behou van leierskap glo,” sê Yvonne Gerber, beampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.

“Ek is opgewonde om te sien hoe hierdie leerders hul nuwe kennis gaan gebruik om ’n verskil in hul skole en gemeenskappe te maak,” sluit Gerber af.

AfriForum Jeug glo dat elke jong leier die potensiaal het om verandering teweeg te bring. Deur in hierdie leerders te belê, bou ons aan ’n generasie wat nie wag vir verandering nie maar dit self skep.

As jy in die werk glo wat AfriForum Jeug doen om skole en toekomstige leiers te ondersteun, word ’n lid sodat ons nog meer hulpbronne in ons jeug kan belê. Saam bou ons ’n toekoms waar jong mense met selfvertroue, visie en karakter lei. Besoek https://sluit-aan.afriforumjeug.co.za/af om aan te sluit.