Stellenbosch_University
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug beklink oorwinning ná US klagtes teen pro-Afrikaanse SR-kandidaat van die hand wys

’n Oorwinning vir Afrikaans én studente se reg tot vrye, demokratiese en deursigtige Studenteraadsverkiesings (SR-verkiesings). Dít is hoe AfriForum Jeug die besluit van die Universiteit Stellenbosch (US) se Verkiesingskommissie (VK) beskryf nadat dié kommissie gister alle klagtes teen ’n pro-Afrikaanse kandidaat in vanjaar se SR-verkiesing van die hand gewys het. Dit is ook gister aangekondig dat die betrokke kandidaat een van die nege kandidate was om suksesvol tot Maties se SR vir 2024/2025 verkies te word.

’n Herrie het verlede week losgebars om die kop van ’n SR-kandidaat en AfriForum Jeug-lid aan die US, wat haar kanse op ’n plek in die SR so byna gekniehalter het. Jolene le Roux is verlede week deur ’n anonieme student daarvan aangekla dat sy finansiering van ’n derde party ontvang het om haar verkiesingsveldtog te bevorder en dat ’n plasing wat op AfriForum Jeug se Instagram-blad gemaak is, die “integriteit van die verkiesingsproses in gevaar gestel het” en aan haar ’n “onregverdige voordeel” gegee het. Dit ten spyte daarvan dat die betrokke plasing geen verwysing na haar as SR-kandidaat gemaak het nie.

Le Roux is gister skriftelik van die VK se beslissing in kennis gestel en voer in hul brief aan dat sy skuldig bevind is weens beweerde oortreding van die US se verkiesingsreëls, maar dat daar besluit is om die klagtes van die hand te wys aangesien ’n besluit om haar te diskwalifiseer ongrondwetlik sou wees.

AfriForum Jeug het sy regspan verlede week opdrag gegee om die kandidaat by te staan. In ’n regskrywe wat Wian Spies, prokureur by Hurter Spies en lid van AfriForum Jeug se regspan, aan die VK gerig het, het die organisasie aantygings van die misbruik van fondse en betrokkenheid by finansiële ongerymdhede deur die organisasie en Le Roux as lid ten sterkste veroordeel. Hy het ook benadruk dat Le Roux nie op grond van haar lidmaatskap van of deelname aan AfriForum Jeug se aktiwiteite gepenaliseer mag word nie.

Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, het die afgelope week se kontroversie afgemaak as ’n heksejag teen Afrikaans en Afrikaanse studente by die US, maar beskou die uitkoms as bevredigend en ’n oorwinning vir geregtigheid. “Die US se VK het hierdie week besef dat ons nie die saak gelate gaan aanvaar nie en dat ons as geregistreerde studenteorganisasie en Le Roux as lid van AfriForum Jeug die ongegronde aantygings sal beveg – en ons het dit suksesvol en in die belang van alle studente gedoen,” verduidelik sy.

Gerber waarsku egter dat vandeesweek se gebeure tekenend is van ’n dieper probleem by dié universiteit wat dui op onverdraagsaamheid teenoor Afrikaans en Afrikaanse studente. Sy hou vol dat AfriForum Jeug tekens daarvan sal monitor en sal toesien dat studente nie onbillik benadeel word op grond van hul taal, kultuur of lidmaatskap by pro-Afrikaanse studenteorganisasies nie. “Die uitslag van die verkiesing laat ons wel ook hoopvol omdat dit wys dat Afrikaans steeds ’n plek op Stellenbosch het en dit verdien,” sluit Gerber af.