Jeug
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug bederf toppresteerders met boekpryse

AfriForum Jeug se Port Elizabeth-tak het vroeër vandeesmaand toppresteerders in Afrikaans by ses verskillende skole in Gqeberha met boekpryse bederf. Dié leerders sal boonop nou selfs skerper en meer spitsvondig kan raak met dié taal aangesien die boekprys, Spreekwoorde en ander segswyses, nagenoeg 11 000 spreekwoorde en segswyses sowel as interessante en pittige inligting oor en verklarings en vertaalekwivalente vir die spreekwoorde en segswyses bevat. Met hierdie handige boekprys sal hierdie leerders nader kan kennis maak met die taal in sy volle, kleurvolle glorie.

“By AfriForum Jeug streef ons daarna om Afrikaans as taal uit te bou en om jongmense oor die wonder van hierdie taal in te lig. Dit sal uiteindelik die jong generasie bemagtig met inligting om sodoende standpunt te kan inneem oor kwessies wat hul toekoms beïnvloed. Die leerders wat die boekpryse ontvang het, sit nou met ’n opwindende skatkis met van die mooiste gesegdes en spreekwoorde in Afrikaans,” sê Wikus van der Walt, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Sluit vandag nog by jou plaaslike AfriForum Jeug-tak aan.

AfriForum Jeug-lede Shannon Herman en André Gouws oorhandig ’n AfriForum Jeug-boekprys aan Laerskool Charlo se graad 7-toppresteerder vir Afrikaans, Mieke van Staden. Links is Stefan Botha, departementshoof van die senior fase by Charlo.

Boekpryse is ook aan Laerskool Kabega Primary oorhandig. V.l.n.r. is: Marika Lemmer (departementshoof: grondslagfase), André Gouws en Shannon Herman (AfriForum Jeug-lede), Andrew Jonas (skoolhoof) en Wikus Olivier (departementshoof: intermediêre fase).