Groepfoto
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug aan Ramaphosa: Jou ekonomie is op valshede gebou

AfriForum Jeug het vandag ’n boek oor basiese ekonomiese feite en valshede aan die president oorhandig; dit is deur ’n verteenwoordiger van die president se kantoor, Robert Hlongwane, by die Uniegebou ontvang. Die groep jongmense het die gebaar van wantroue getoon omdat die ANC-regering nooit daarin slaag om werk te skep nie.

Die president het op 13 Junie in sy brief gesê die ANC se eerste prioriteit is sedert 1994 werkskepping. AfriForum Jeug is egter bekommerd dat die ANC-leierskap eerder ’n struikelblok in die jeug se pad is, want die werkloosheidskoers onder die jeug het die afgelope drie dekades net al hoër geraak. In die lig van al die ekonomiese mislukkings het die jeugorganisasie dit goedgedink om vir die president en die ANC ’n kopie van Thomas Sowell se Economic facts and fallacies te gee waarin die basiese beginsels van die ekonomie uiteengesit word.

“Die ANC is duidelik die pad byster as gevolg van hulle geloof in vele ekonomiese valshede, en hierdie boek poog juis om sulke valshede uit te wys. Die president het gesê hulle beoog om ’n nuwe maatskaplike indiensnemingsfonds te loods. Sulke onvolhoubare benaderings bemagtig nie die jeug nie, maar maak hulle eerder meer afhanklik van die staat. By AfriForum Jeug het ons geleer jongmense in Suid-Afrika moet staatsbestand wees om sukses te behaal,” sê René van der Vyver, woordvoerder vir AfriForum Jeug.

Sowell ontbloot ekonomiese valshede op ’n manier wat enigiemand kan verstaan. AfriForum Jeug hoop sy boek sal die president en die ANC-regering help om die koers van Suid-Afrika se ekonomie te korrigeer.

Die boek is oorhandig saam met ’n brief waarin die organisasie die doel van die gebaar verduidelik en die boek se belangrikste argumente lys, waaronder die belangrikheid van kultuur, ’n vryemarkstelsel en minder regeringsinmenging.

Suid-Afrika het in 2022 twee kommerwekkende rekords opgestel, naamlik ’n werkloosheidskoers van 46%+ en ’n jeugwerkloosheidskoers van 66%. In plaas daarvan dat hierdie kwessie getakel word, word daar eerder meer hulpbronne belê in diskriminerende beleide soos swart ekonomiese bemagtiging wat die ekonomie net verder lamlê. “Hierdie soort optrede sê vir die jeug dat hulle ten spyte van die ANC-regering sukses moet behaal en dus staatsbestand moet word,” sluit Van der Vyver af.