
AfriForum en jeugvleuel werk saam met gemeenskap om Beverley Grove te verbeter
Die AfriForum-tak in Gqeberha (Port Elizabeth) en sy jeugvleuel het die afgelope naweek by ’n skoonmaakaksie in Beverley Grove betrokke geraak as deel van dié gemeenskap se Ward 39 Community Cleanup-projek. Dié projek poog om die woonbuurt ’n skoner en netjieser plek vir inwoners te maak en is gekenmerk deur die groot opkoms en samewerking van die gemeenskap.
Altesaam 37 vrywilligers het gehelp om rommel in die gebied op te tel. Lede van onder meer AfriForum, AfriForum Jeug, Atlas Security, die DA, die ondernemings Pristine en Garden Fallo en selfs die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het help vullis optel.
Tydens die opruiming is twee vragte vol vullis verwyder, asook ’n groot sleepwa gevul met takke, blare en stompe – ’n tasbare bewys van die impak wat selfs een dag se samewerking kan hê.
“Niemand gaan die toekoms vir ons bou nie, so as ons werklik ’n verskil wil maak moet ons self opstaan, ons moue oprol en die werk doen,” sê Wikus van der Walt, jeugbeampte vir Strukture by AfriForum Jeug. “Die jeug van vandag kan nie wag vir verandering nie. Elke sak rommel wat ons optel, elke aksie wat ons begin, bou aan ’n gemeenskap waarop ons môre trots kan wees.”
Volgens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, is hierdie tipe samewerking die kern van gemeenskapsontwikkeling. “Keer op keer word gemeenskappe sterker wanneer verskillende rolspelers inspring en verantwoordelikheid neem. Hierdie aksie is ’n goeie voorbeeld van wat bereik kan word wanneer mense saamwerk.”
AfriForum Jeug bly daartoe verbind om op grondvlak betrokke te wees by projekte wat ’n volhoubare verskil maak. Jong mense wat self wil inspring en deel word van die oplossing in hulle gemeenskappe, word aangemoedig om by plaaslike AfriForum Jeug-takke in te skakel. Verandering begin daar waar jy bereid is om self ’n verskil te maak.
Klik hier om vandag nog by AfriForum Jeug betrokke te raak.