Ronald Peters en Shaun Christie
| DeurAfriForum

Shaun Christie onskuldig op vier uit vyf aanklagte – AfriForum Jeug maak reg om 2025-oriëntasieprogramme te monitor 

Ontwrigting van ’n universiteitsprogram – dít is uiteindelik al waaraan Shaun Christie, ’n regstudent in sy finale jaar aan die Noordwes-Universiteit, vandeesweek skuldig bevind kon word tydens ’n uitgerekte dissiplinêre proses teen hom. Hiervoor is Christie vandag ’n opgeskorte vonnis opgelê. AfriForum Jeug, wat Christie tydens die verhoor met regsverteenwoordiging bygestaan het, beskou die uitkoms as positief, maar benadruk dat die organisasie intussen gereedmaak om aanstaande jaar ’n waghondrol in te neem by universiteite se oriëntasieprogramme.

Vandeesweek se uitspraak volg nadat Christie in Januarie vanjaar geskors is weens openbare beswaar wat hy oor die inhoud van ’n oriënteringsessie gemaak het.

Christie is later daarvan aangekla van die ontwrigting van ’n universiteitsprogram; dat hy haatspraak gepleeg het; die regte van die spreker van die betrokke sessie, Chloe Valerie van der Walt, geskend het; homself skuldig gemaak het aan vyandige behandeling van die LGBTQIAP +-gemeenskap; en dat hy valse uitlatings rakende die universiteit se beweerde onverdraagsaamheid teenoor Christelike waardes gemaak het. Hy is vandeesweek onskuldig bevind op al die klagtes, behalwe dié van ontwrigting van ’n universiteitsprogram.

“Ons is onder die omstandighede baie tevrede met die uitspraak,” sê Ronald Peters, AfriForum Jeug-bestuurder. “Die klagstaat teen Christie was swaar gelaai en wek kommer oor universiteitsbestuur se misbruik van mag en viktimisering van studente wat opstaan teen ongeregtigheid. Daar is nog baie werk wat gedoen moet word om dié onreg uit te roei, maar die uitkoms van Christie se saak, is reeds ’n stap in die regte rigting.”

Christie het AfriForum Jeug en die regspan van Hurter & Spies vir hul steun bedank. “Dankie dat julle in hierdie saak geglo het. Dankie dat julle die jeug se stem beskerm en ons bemagtig om op te staan vir wat reg is sonder om geïntimideer te word deur dreigemente.”

Die dissiplinêre proses wat teen Christie gevolg is, het nie die optrede van die universiteit in die samestelling of aantygings van voorkeurbehandeling aan sekere groepe in die oriëntasieprogram onder die loep geneem het nie. AfriForum Jeug het hom daarom nou daartoe verbind om die oriëntasieprogramme aan openbare universiteite te monitor om diskriminasie in die keuring van organisasies of individue vir deelname aan die program te verhoed.