Plakkate buite Departement van Basiese Onderwys
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug-protes maak boodskap duidelik: BELA ís boos

AfriForum Jeug het vandag opnuut kapsie gemaak teen die aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA). Dié jeugorganisasie het plakkate met slagspreuke soos “Afrikaanse skole is ons reg” en “BELA is boos” teen die heining van die Departement van Basiese Onderwys se kantore in Pretoria opgesit waar dit duidelik gesien kon word.

Die jeugorganisasie het sterk kommer uitgespreek oor die werklike risiko’s wat hierdie wetsontwerp vir Afrikaanse onderrig inhou, aangesien die BELA-wetsontwerp steeds die mag om skole se taalbeleid te verander in provinsiale onderwyshoofde se hande plaas. Alhoewel die jongste wysigings nou aan beheerliggame die aanvanklike besluit oor skole se taal- en toelatingsbeleid gee, berus die finale goedkeuring steeds by die provinsiale onderwyshoof. Dié wysigings doen dus min om bekommernisse oor politieke inmenging te sus.

Volgens Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum Jeug, kan ’n wetsontwerp nie net aan sy motiewe beoordeel word nie, maar moet alle moontlike toepassings daarvan oorweeg word voordat dit goedgekeur word. “Ongeag wat die bedoelings is van die huidige onderwyshoofde, bied BELA die geleentheid vir iemand met kwade bedoelings om Afrikaans by openbare skole ’n geweldige slag toe te dien, en ons kan dit nie sonder teenstand laat voortgaan nie.”

Alhoewel die aanneming van die wetsontwerp tans by die parlement berus, is AfriForum Jeug oortuig daarvan dat die Departement van Onderwys – wat die uiteindelike toepasser van die wet is – daarteen moet standpunt inneem. Daarom het die jeugorganisasie besluit om by dié departement se hoofkantoor hul standpunt te lug.

“Die stryd teen BELA is uiteindelik ’n stryd vir die behoud van Afrikaans,” sluit Boshoff af.