Jeug-tak maak Rustenburg se inwoners touwys in selfverdediging
Luidens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se jongste misdaadstatistiek vir die 2026/2027-boekjaar was die meeste ernstige misdade – soos aanranding, moord en roof – in Noordwes in Rustenburg aangemeld. Die Rustenburg-polisiestasie is boonop onder die top 20 stasies in die land waar die meeste van dié soort misdade aangemeld word.
AfriForum Jeug glo egter dat individue nie slagoffers van hierdie misdade hoef te word nie, mits hulle hul persoonlike veiligheid ernstig opneem en vir enige moontlikheid voorbereid is.
Rustenburg se Jeug-tak het die afgelope naweek ’n Veiligheid 101-selfverdedigingsklas by NG Protea Park aangebied. Altesaam agt deelnemers is met praktiese kennis en vaardighede toegerus om hulself tydens gevaarlike situasies te beskerm, insluitend wanneer hulle met ’n gewapende aanvaller of bedreigings soos ’n mes of vuurwapen gekonfronteer word.
“Ons kan nie altyd beheer wat rondom ons gebeur nie, maar ons kan beheer hoe voorbereid ons daarvoor is. Ons wil nie vrees inboesem nie, maar mense bemagtig om in enige scenario op te tree,” sê Jaun Ferreira, voorsitter van AfriForum Jeug se Rustenburg-tak.
Die tak beoog om in 2027 die klasse voort te sit en moedig die gemeenskap aan om by toekomstige inisiatiewe betrokke te raak. Hou AfriForum Jeug se sosiale media en webwerf dop vir meer inligting.

