AfriForum Jeug help 47 leiers om Wes-Kaapse gemeenskappe te versterk
AfriForum Jeug het onlangs 47 jong leiers van vyf Wes-Kaapse skole toegerus om hul skole en gemeenskappe met meer selfvertroue en begrip te lei. Die jeugorganisasie se jaarlikse leierskapsgeleentheid, Toekomsskeppers, het gefokus op leierskap, temperament en gemeenskapsbou, met die doel om jongmense te help om hulself beter te verstaan en meer effektief saam met ander te werk.
Leerders van Hoërskool Durbanville, HTS Drostdy, Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Porterville en Hoër Meisieskool Bloemhof het die geleentheid bygewoon. Die sessie het leiers die geleentheid gebied om meer oor hul eie temperament en persoonlikheid te leer, asook hoe hul verskillende eienskappe hul kommunikasie, besluitneming en leierskap beïnvloed.
Dr. Kirsten du Toit, ’n maatskaplike werker, het die sessie aangebied en onder meer insigte gebied oor die leerders se temperament en persoonlikheid. “Deur beter te verstaan hoe hulle dink, optree en op verskillende situasies reageer, kan jong leiers hul sterkpunte beter benut en hul uitdagings met die nodige selfbewustheid hanteer. Dit help hulle ook om ander se verskille te verstaan en ruimte te skep vir verskillende persoonlikhede en benaderings binne ’n span,” sê Du Toit.



Toekomsskeppers fokus nie net op individuele ontwikkeling nie, maar ook op die bou van verhoudings tussen jong leiers. Die 47 leiers het die geleentheid gekry om met leerders van ander skole kennis te maak, ervarings te deel en nuwe bande te smee. AfriForum Jeug wil deur hierdie geleenthede ’n groter netwerk van jongmense vestig wat mekaar kan ondersteun en saam aan hul skole en gemeenskappe bou.
“Ons wil hê jong leiers moet besef dat hulle nie eers eendag ’n verskil hoef te maak nie – hulle kan dit reeds vandag doen. Deur hulself beter te leer ken, ander te verstaan en saam te werk, kan hulle ’n betekenisvolle bydrae tot hul skole en gemeenskappe maak. Ons is dankbaar vir elke skool wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het en sien uit na die verskil wat hierdie leiers gedurende hul termyn gaan maak,” sê Tania Scheepers, jeugbeampte vir Gemeenskappe en Veiligheid by AfriForum Jeug.
AfriForum Jeug glo dat beleggings in jong leiers ’n belangrike deel van gemeenskapsontwikkeling uitmaak. Deur platforms te skep waar jongmense hul leierskapsvaardighede kan ontwikkel, hulself beter kan verstaan en betekenisvolle verhoudings kan bou, word hulle toegerus om vandag reeds ’n positiewe rol in hul gemeenskappe te speel.

