|

Jeug het pret met kleur om fondse in te samel

AfriForum Jeug se Rustenburg-tak het op 16 Junie ’n prettige 5 km kleurpretdraf by Brauhaus Afrika aangebied, waartydens 56 deelnemers saam gedraf het om fondse in te samel vir verskeie gemeenskapsprojekte.

Die geleentheid het ten doel gehad om fondse in te samel vir die ondersteuning van Spes Bona tehuis vir mense met gestremdhede asook toekomstige gemeenskapsprojekte wat deur AfriForum Jeug se Rustenburg-tak aangepak gaan word soos om strate te verf, slaggate te herstel en parkies op te knap.

“Die hoogtepunt van die dag was die bereidwilligheid van die gemeenskap om betrokke te raak en ‘n verskil te maak. Dit is bemoedigend om te sien hoe mense hul ondersteuning wys vir projekte wat daarop gemik is om ons gemeenskap op te bou en diegene in nood by te staan,” sê Jenedri Ferreira, ondervoorsitter van AfriForum Jeug se Rustenburg-tak.

Die AfriForum Jeug-tak bedank elke deelnemer, ondersteuner, borg en vrywilliger wat gehelp het om die geleentheid ‘n sukses te maak. Sonder die gemeenskap se ondersteuning sou sulke inisiatiewe nie moontlik wees nie.

Die organisasie sien daarna uit om voort te gaan om projekte aan te pak wat ‘n tasbare verskil in Rustenburg maak en inwoners aan te moedig om aktief betrokke te raak by die bou van ’n sterker gemeenskap.