AfriForum Jeug-tak bied suksesvolle skietopleiding vir studente aan
AfriForum Jeug se Tuks-tak het verlede week in samewerking met AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid skietopleiding vir studente aan die Universiteit van Pretoria (Tuks), Sol-Tech en Akademia aangebied. Meer as 13 studente het aan die opleiding deelgeneem in ’n poging om meer oor persoonlike veiligheid en verantwoordelike vuurwapenhantering te leer.
Tydens die opleiding is studente blootgestel aan die basiese beginsels van veilige vuurwapengebruik en geleer hoe om ’n vuurwapen veilig te laai en hulself vir ’n skoot te posisioneer. Die opleiding het nie net op tegniese vaardighede gefokus nie, maar ook sterk klem gelê op die wetlike en etiese aspekte van vuurwapengebruik. Studente is spesifiek geleer wanneer dit gepas is om ’n vuurwapen te gebruik en wanneer nie.
“’n Vuurwapen is nie ’n speelding waarmee roekeloos omgegaan kan word nie. Dit is daarom belangrik dat jongmense dissipline geleer word as dit kom by die hantering daarvan. As jongmense die nodige kennis het, sal die volgende generasie vuurwapens verantwoordelik en veilig hanteer. Hierdie opleiding vorm deel van AfriForum Jeug se visie om studente toe te rus met praktiese veiligheidsvaardighede en hulle te bemagtig om verantwoordelik op te tree in uitdagende situasies,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.



Die belangstelling in hierdie soort opleiding was veel groter as wat daar verwag is, daarom word daar reeds beplan om in die nabye toekoms nóg ’n soortgelyke sessie aan te bied om meer studente die geleentheid te gee om die opleiding by te woon.
AfriForum Jeug glo dat veiligheid, verantwoordelikheid en selfdissipline kernaspekte van studente-ontwikkeling is en dat praktiese opleidingsessies soos dié, jongmense beter voorberei om hulself en hul gemeenskappe te beskerm.

