|

AfriForum Jeug bemagtig 50 NWU-studente met veiligheidsopleiding

AfriForum Jeug se Puk-tak het vroeër vandeesweek (14 April), in samewerking met AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling, ’n Veiligheid 101-sessie by Karlien Dameskoshuis op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus aangebied. Altesaam 50 studente het die sessie bygewoon, wat die groeiende behoefte aan praktiese veiligheidsopleiding onder studente beklemtoon. Die doel van die Veiligheid 101-inisiatief is om studente toe te rus met noodsaaklike kennis en praktiese vaardighede om hulself in moontlike gevaarlike situasies te beskerm.

Die sessie het begin met ’n kort teoretiese aanbieding waarin kernbeginsels soos omgewingsbewustheid en die sogenaamde OODA-loop (Observe, Orient, Decide, Act) bespreek is. Volgens Dewet Ungerer, hoof van Veiligheid in die noordstreek, speel hierdie beginsels ’n deurslaggewende rol in persoonlike veiligheid.

“Wanneer omgewingsbewustheid doelbewus toegepas word, plaas dit individue binne die top 1%-vlak van gereedheid – ’n kritieke voordeel in enige moontlike gevaarsituasie,” sê Ungerer. “Indien ’n persoon hulself in ’n gevaarlike situasie bevind, is dit noodsaaklik om vinnig en doelgerig op te tree. Individue kan op kwesbare areas soos die keel en lies fokus om ’n geleentheid vir ontsnapping te skep.”

Ná afloop van die teoretiese deel is studente in kleiner groepe verdeel waar hulle aan praktiese demonstrasies deelgeneem het. Studente het verskeie selfverdedigingstegnieke aangeleer, insluitend hoe om los te breek uit ’n aanvaller se greep, asook hoe om op te tree in situasies waar ’n aanvaller ’n mes gebruik. Die praktiese aard van die sessie het studente nie net bewus gemaak van moontlike gevare nie, maar hulle ook met selfvertroue toegerus om vinnig en effektief op te tree.

Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, sê die groot opkoms van studente is ’n duidelike aanduiding dat studente hul veiligheid ernstig opneem. “Veiligheid begin by die individu en deur studente toe te rus met die regte kennis en vaardighede, stel ons hulle in staat om proaktief op te tree en hulself te beskerm.”

AfriForum Jeug bly verbind tot die veiligheid en bemagtiging van studente op kampusse oor die land heen en sal voortgaan om soortgelyke inisiatiewe aan te bied om ’n veiliger omgewing vir alle studente te help skep.